South Coast Fever

‘n Christen op jou eie nie moontlik nie

Om ‘n Christen op jou eentjie te wees, is net nie moontlik nie. Dit is soos om ‘n kooltjie uit die vuur te krap en eenkant te plaas.

Die winter is op ons. Dis tyd om die verwarmer of warm kombers nader te trek of die kaggel aan te steek. Wanneer die kaggelvuur begin knetter gebeur dit soms dat een van die kole of stukke hout eenkant toe val. Daar eenkant in die koue rook dit naderhand net, want die vuur is geblus. Die tye verander, maar sekere dinge verander nie. Daar sal altyd mense wees wat nie wil inskakel by ‘n gemeenskap nie. Mens het respek vir die voorkeure van byvoorbeeld introverte, maar menswees veronderstel gemeenskap in watter vorm ookal. In die Bybel, in Romeine 12:4, word die kerk van die Here vergelyk met ‘n liggaam. “Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so al is ons baie, een liggaam in Christus, en individueel lede van mekaar.”

Om ‘n Christen op jou eentjie te wees, is net nie moontlik nie. Dit is soos om ‘n kooltjie uit die vuur te krap en eenkant te plaas. Vir ‘n paar oomblikke sal dit gloei en dan uitbrand. God het Christene in ‘n gemeenskap saamgevoeg wat ons die liggaam van Christus noem. In die wêreld daarbuite lees ons van vroeg al af van Kain wat sy broer Abel doodslaan. Uiteindelik het die virus wat ons sonde noem, ook die uitwerking op die samelewing dat dit elkeen vir homself is. Christene is op die uitkyk vir mekaar en vra nie of hulle hulle broer se herder is nie. Die kerk bestaan uit mense wat uit genade gered is en waar almal wat in Christus glo welkom is.

Die wet van die liefde vra immers dat Christene mekaar se laste dra. Christene vergewe mekaar en bou mekaar op in liefde. Dit is moeilik om op jou eie ‘n Christen te wees. Die vraag wat ons mekaar moet afvra is of ons onsself sien as ‘n kooltjie vuur wat op ons eie brand en of ons die groter vuur se welwese dien. In ‘n koue wêreld is daar ‘n gemeenskap mense wat Christus se warm liefde na mekaar en na die wêreld uitstraal en so Christus se warm liefde kommunikeer.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button