South Coast Fever

Die noodsaaklikheid om te treur is ‘n realiteit

Daar is ook die gevaar van krisis verlamming waar jy begin gewoond raak aan al die krisisse om jou.

Ons lewe in ’n stukkende en gebroke wêreld. In ons eie land verneem ons van mense wat desperaat is om net te oorleef. Aan die ander kant is daar diegene wat hulself verryk ten koste van ander. Op talle plekke in die wêreld word hele woonbuurte deur bomme stukkend geskiet.

Dis soos iemand gesê het asof die hel losgebreek het. Nou sal mens kan sê dat die gevaar daar is om te sê dat alles oordryf word. Die gevaar is egter ook dat mens kan ontken dat jy in ’n gebroke wêreld leef omdat die veilige kompleks waar jy leef en die goeie salaris wat jy verdien jou vrywaar van die gebrokenheid van die wêreld.

Daar is ook die gevaar van krisis verlamming waar jy begin gewoond raak aan al die krisisse om jou. Jesus se woorde in Matteus 6:4 wat eeue gelede weerklink het, is egter net so geldig vandag vir sy moderne volgelinge: Gelukkig is dié wat treur want hulle sal vertroos word.

Wanneer ons die woord treur hoor, dink ons waarskynlik in die eerste plek aan iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Natuurlik is die betekenis ook ingesluit in Jesus se woorde. Jesus se bedoeling gaan egter verder. Jesus wil eintlik diegene wat treur gelukwens. Daar sit dus iets in van die noodsaaklikheid van treur. Om te treur saam met mense in nood is eintlik om in solidariteit met hulle te treur.

Dikwels kan ons iets aan ’n situasie doen ander kere voel ons magteloos om iets te doen. In so ’n tyd kan ons God herinner aan die nood om ons. Hy is bewus daarvan maar ons roep Hom aan in ons benoudheid. Juis dit bied aan ons troos maar roep ons tegelykertyd op om skouer aan die wiel te sit en waar ons kan ’n verskil te help maak aan die nood van ons dag.

Om te treur gee ook uitdrukking aan ons hoop. Ons glo en verwag dat daar tye van verandering kom. Daarom treur ons saam met die wat treur. Ons treur oor die sonde wat mense en hierdie wêreld mismaak. Ons plek is by hulle wat treur todat God al die trane afgedroog het.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button