South Coast Fever

President Ramaphosa – man van staal of wol?

Die jongste relletjie het begin toe die president aangekondig het hy het Whitfield van sy pos onthef omdat hy sonder toestemming ‘n buitelandse reis onderneem het.

Die afdanking van die Adjunk-minister van Handel, Nywerheid en Mededinging. Andrew Whitfield deur president Ramaphosa, het die afgelope tyd groot opspraak en politieke gevegte verwek. In so ‘n mate dat die vrees weereens ontstaan het dat die Regering van Nasionale Eenheid se dae getel is. Toe hierdie rubriek geskryf is, is die RNE gered, maar het die DA, Whitfield se party verklaar hy gaan stem teen die goedkeuring van die begrotings van ANC-ministers in die kabinet oor wie se koppe daar wolke van wanbestuur of korrupsie hang. En dalk ‘n mosie van wantroue teen die president instel.

Die jongste relletjie het begin toe die president aangekondig het hy het Whitfield van sy pos onthef omdat hy sonder toestemming ‘n buitelandse reis onderneem het. Die DA en Whitfield het daarop gewys dat Whitfield wel aansoek gedoen maar geen antwoord ontvang het nie, en tien dae voor sy vertrek navraag gedoen het oor wat die president se besluit was. Hy het weereens geen antwoord gekry nie, aanvaar dis in orde, en in Maart, drie maande gelede, na Amerika vertrek. President Ramaphosa het verlede week Donderdag aangekondig Whitfeld is afgedank, en Vrydag eers die rede bekend gemaak. Die DA het heftig gereageer en ‘n ultimatum gestel dat die president ook moet optree teen die Minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane wat onwaarhede verkondig het oor haar sg. onafhanklike adviespaneel vir Sektor-onderwys en Opleidings-owerhede, en die Adjunk-minister van Watersake, David Mahlobo, wat daarvan verdink word dat hy met hope kontant by die Staatsveiligheidraad weg is. Die party is ook erg omgekrap daaroor dat die president hom nie verwerdig het om op Whitfield se versoek ( hy sê hy het nege dae na mekaar navraag gedoen) te reageer nie. Die DA wys ook daarop dat Whitfield die president om verskoning gevra het.

Dit lyk alhoe waarskynliker dat president Ramaphosa van Whitfield om ander redes ontslae geraak het. Whitfield het bv. ongemaklike vrae oor die toekenning van die Loterybestuur gevra. Top-regeringsamptenare is na bewering betrokke by die konsortium wat aansoek gedoen het, onder meer familie van Adjunk-president Paul Mashatile, wat die vermoede laat ontstaan het dat die president ‘n rede gesoek het om van Whitfield ontslae te raak omdat daar binne die ANC druk op hom was om dit te doen. Ongelukkig het Whitfield dit vir hom maklik gemaak, want die feit bly staan hy het nie amptelik toestemming gehad om te reis nie, al is die president se optrede en verduidelikings hoe onaanvaarbaar. ‘n Kenmerk van die president se reaksie is dat hy homself sterk uitgespreek het in sy aankondiging en latere reaksie op die DA se ongelukkigheid. Daar word gevra waarom hy nou skielik so kragdadig is, terwyl hy by verskeie geleenthede in die verlede toe hy so streng moes optree, dit nie gedoen het nie.

Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, som die situasie baie goed op en verwys na die uitdrukking ‘balls of steel’, wat figuurlik beteken iemand het buitengewone moed en vreesloosheid, veral in die aangesig van groot gevaar en teenspoed. Hy wys daarop hierdie uitdrukking het in die vroeë 20e eeu in Amerika ontstaan en ‘n gewilde idioom in Engelssprekende lande geword, ten spyte daarvan dat dit potensieël aanstootlike konnotasies kan inhou. Die ‘balle’ in die uitdrukking verwys na testikels wat geassosieer word met manlikheid en buitengewone krag, dapperheid en taaiheid. Makhanya sê dis waarskynlik die beeld wat die president wou projekteer met die afdanking van Whitfield. ‘President Ramaphosa word sedert lankal reeds beskuldig daarvan dat hy ruggraatloos en sonder mannemoed is, en nie ‘balls of steel’ het nie. Hy wou hierdie narratief verander’. Makhanya sê voorts die redes wat Ramaphosa aangevoer en die taal wat hy gebruik het in sy afdanking van Whitfield, is lagwekkend omdat die keuse van die saak wat hy gekies het om sy gesag mee af te dwing, redelik onbelangrik is. ‘Waar was hierdie kragdadigheid in die staatskapingsjare?’, vra Makhanaya, ‘toe hy as Adjunk-president die destydse president, Jacob Zuma, se regterhand was en die ANC die besteding van R250-miljoen rand aan Zuma se huis op Nkandla, hardnekkig verdedig het? En die ANC sy palementêre mag misbruik het om Zuma teen aanspreeklikgheid te beskerm? Ramaphosa het met gevoude arms aanvaar dat Thuli Madonsela as ‘n vyand van die staat beskou is toe sy as Openbare Beskermer bevind het die Nkandla-uitgawes was ‘n ernstige misbruik van staatsbates en dat stappe teen die betrokkenes gedoen moes word?’ Makhanya noem ook dat die president niks gedoen het nie toe die ANC die wetgewer misbruik het om die grondwet te ondermyn. Hy wens die ‘balls of steel’ is gebruik toe die Guptas beheer oor die land oorgeneem, en Denel, Transnet, Eskom, Denel, SAA, die SABC en ander ondernemings in staatsbesit biljoene van die regering gekry het om te oorleef? Toe hy destyds daarop gewys is, het die destydse adjunk-president altyd lafhartige maniere gevind om sy misdadige baas nie aanstoot te gee nie.

Makhanya noem verskeie geleenthede tydens sy presidentskap toe hy oortreders kon vasvat soos hy nou met Whitfield gedoen het, en hy dit nie gedoen het nie. Hy noem dat Ramaphosa verklaar het hy kon nie optree nie want hy sou sy pos kwyt wees, en dit was beter om binne te bly ‘Die ‘balls of steel’ was opvallend afwesig, of het tydelik verdwyn’, skryf Makhanya. In die kol, Mondli.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button