South Coast Fever

KI – wonderlike hulpmiddel of die pad na ondergang?

Gelukkig is daar talle ander toepassings en gebruike van KI wat ons lewens makliker gaan maak en bydra tot vooruitgang op verskeie gebiede.

As iemand wat redelik aktief op die sosiale media is en gereeld joernalistieke en ander inligtingsbronne raadpleeg, kan ek nie help nie as om daagliks alhoe meer te doen te kry met KI – oftewel kunsmatige intelligensie nie. Laat ek dadelik erken ek weet nie veel van die onderwerp af nie, behalwe dat daar verskeie KI-formate, onder meer ChatGPT, is wat om verskeie redes deur mense gebruik word, en dat KI oral in ons daaglikse omgewing ’n groot rol speel.

Ek het met verbasing en ongeloof waargeneem waartoe hierdie ‘chatbods’ in staat is. My seun het basiese inligting oor die ander rubriek in die Fever, Wouter se Watergat, by een van hierdie KI-bronne ingevoer, en dit was vir my verstommend waarmee dit vorendag gekom het, Asof dit self deur Wouter Willemse geskryf is. Iets wat uiteraard om verskeie redes groot probleme vir die joernalistieke beroep inhou, maar dis ’n ander gesprek.

Soos baie ander mense in my posisie, redelik lank in die tand en nie so ‘opgeclue’ met die rekenaarwese en digitale produkwêreld nie, maak dit my soms bang. Baie bang. Veral wanneer ek na videos op die internetbronne soos Tiktok Youtube en Facebook kyk, en met ’n skok besef wat voor my afspeel en aanvanklik geloofwaardig lyk, is deur KI gegenereer. Van Donald Trump, Vladimir Putin, Benjamin Netanyahu en andere wat as baba’s uitgebeeld word en snaaksighede kwytraak, tot wilde diere wat in gevegte betrokke raak en onmoontlike dinge doen wat bloot op sigwaarde realisties en eg voorkom, maar agv. van ’n basiese kennis van die dierewêreld, deur die kyker as KI geïdentifiseer kan word.

Die groot probleem is egter wanneer KI gebruik word om nuus en inligting te manipuleer en die kyker/luisteraar het nie ’n manier om te weet of dit eg is of nie. ’n Goeie voorbeeld is die onlangse gebruik van KI deur onbekendes om die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio by ander lande in die verleentheid te stel deur hom valse verklarings te laat maak. Dis lank reeds bekend dat verskeie lande KI in hul sekerheidsdienste gebruik om hul eie belange te bevorder en om bv. verkiesings en gebeure in ander lande te beïnvloed.

In 2021 het die Oxford Internet Institute bevestig dat 81 lande die sosiale media gebruik om disinformasieveldtogte te voer, en in 76 van hulle is dit deur hul regerings gesanksioneer. Dit is nie eie aan die Weste nie, en volgens kenners is dit niks anders nie as die industrialisering van manipulasie. Daar is ook bevestig dat die verskillende mediaplatforms inhoud verkies wat kontroversie veroorsaak en mense opsweep. Betroubare navorsing toon dat leuens en onwaarhede ses keer vinniger op X, voorheen Twitter, versprei. Maniere om KI op ’n bedenklike wyse te gebruik, is legio. ’n Mens kan net hoop dat die maniere om te bepaal wanneer dit so gebruik word, net so vinnig sal vorder as KI self, so nie leef mense dalk iewers vorentoe in ‘n totale valse wêreld.

Gelukkig is daar talle ander toepassings en gebruike van KI wat ons lewens makliker gaan maak en bydra tot vooruitgang op verskeie gebiede. Soos met alle ander ontwikkelings op aarde, help dit nie om daarteen te skop nie. Aanpassing is ononderhandelbaar vir oorlewing. ’n Goeie voorbeeld is bv. georganiseerde veldtogte om die gestruktureerde en konstruktiewe gebruik van KI in Suid-Afrika te bevorder. Ons land is onlangs aangewys as dertiende op die ranglys van lande in die wêreld wat die hoeveelheid KI-datasentrums het. Suid-Afrika het twee fasiliteite waar onderrig verskaf kan word ivm. KI-modelle, tesame met die infrastuktuur om hulle te bestuur, en met plaaslik bestuurde rekenaarvermoëns om Suid-Afrikaanse maatskappye in staat te stel om KI-gebruik te bevorder.

Afrikaans.com het bv. onlangs ’n nuwe KI-funksionaliteit bekend gestel., nl. Afrikaans.ai, die eerste in sy soort vir die Afrikaanse gemeenskap. Hierdie innoverende aanlyn-hulpmiddel bring i.) KI en websoektogte bymekaar op een gebruikersvriendelike platform, alles in Afrikaans. ii.) Die funksionaliteit kombineer inligting van verskeie aanlynbronne om vinnig volledige, omvattende antwoorde te verskaf. iii.) Gee antwoorde in maklike, verstaanbare Afrikaans. iv.) Verwys duidelik na die bronne wat gebruik is, sodat ‘n mens nog navorsing kan doen, indien nodig. v.) Dit laat jou kies tussen KI-gegenereerde insigte en tradisionele websoektogte – afhangend van die behoefte. vi.) Dit is nie ‘n vertaaldiens nie, maar eerder ’n funsionaliteit wat jou help om maklik en vinnig by antwoorde uit te kom.

Afrikaans.ai bied twee kragtige funksies op een platform, nl. ’n Wêreldwye web, waarmee die algemene web deursoek kan word, en Kunsmatige Intelligensie, waarmee gevorderde KI gebruik kan wod om inhoud te genereer, vrae te beanrtwoord, teks saam te vat, kreatiewe idees te ontwikkel en nog meer. Hierdie slim filterfunksie gee ’n mens beheer oor hoe jy inligting wil verkry. Elke metode bied unieke antwoorde en insigte, en help jou om vinniger by die regte inligting uit te kom sonder om op verskillende webwerwe te soek. Afrikaans.com sê met Afrikaans.ai bou hy voort op sy verbintenis om Afrikaans as ’n moderne, lewenskragtige taal aanlyn te bevorder.

Hierdie platform is ’n bewys dat Afrikaans en die digitale wêreld hande kan vat om saam nuwe moontlikhede te ontsluit, leer te bevorder en toegang tot kennis uit te bou. Die webadres is www.afrikaans.ai. Vir verdere navrae kontak gerus vir Clara de Wet by clara@uppe.co.za, of Nicolette Kritzinger by nicolette@uppe.co.za.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button