South Coast Fever

Verstaan jy wat jou hond vir jou probeer sê?

Die kenners wys daarop die geheim om hondegedrag te verstaan is om inligting daaroor in te win en dienooreenkomstig op te tree sodat die verhouding tussen dier en eienaar aangenaam en ’n groot ervaring vir albei is.

Die uwe en vroulief het ’n jaar gelede na ’n aftree-oord verhuis, en twee Malteser-hondjies wat ons van ons oudste seun-hulle geërf het, het saamgekom. Ons het die tweetjjies, wat reeds 12 jaar oud is, goed leer ken toe voor ons verhuising na die aftree-oord, maar nou is hulle deurentyd is ons geselskap, ons het in die proses baie geheg aan hulle geraak, en andersom. Ons was baie jare lank liefhebbers van Duitse Herdershonde, is nog steeds, en het sedert die tagtigerjare vyf van hulle gehad. Wonderlike, intelligente en lojale diere, en ons het hulle goed opgelei by verskeie hondeskole soos bv. die Hibiscus Kennel Club. In die proses het ek hondegedrag redelik goed leer ken.

Ons het uiteraard nie soveel tyd by hulle deurgedring soos met die Maltesers nie, hulle was in die dag baie buite die huis, en het in die aande binneshuis geslaap. Met die twee Maltesers is die omstandighede anders – hulle is die hele dag in ons geselskap en dis ’n groot plesier om met hulle interaksie te hê, en om te sien hoe hulle met ons kommunikeer. Van hulle boodskappe is duidelik en maklik verstaanbaar, maar soms kan ons nie mooi verstaan wat hulle op die hart het nie. Ek het besluit om weer oor hondegedrag op te lees. In hierdie rubriek is daar nie naastenby genoeg ruimte om die saak breedvoerig te bespreek nie, maar ek noem ‘n klompie tersaaklike riglyne van internasionale hondegedragkenners soos Dr Kelly Ballantyne van Chicago.

Dr Ballantyne wys daarop honde gebruik liggaamstaal en gesigsuitdrukkings om te kommunikeer. Die boodskap is egter nie altyd duidelik nie, en sy wys daarop eienaars moet die hond se boodskap in die volle konteks beoordeel. Daar is verskeie nuanses en subtiliteite. Bv. ’n hond wat grom kan jou laat weet om terug te staan en hom ruimte te gee. Maw. Maar dieselfde hond sal grom wanneer daar met hom gespeel word omdat hy pret het. Praktiese voorbeelde: Een van die duidelikste tekens dat ’n eienaar en sy of haar hond ’n hegte verhouding het is die manier waarop hulle mekaar in die oë kyk. Oogkontak is nie bloot ’n eenvoudige blik nie.
Dis ’n diep verbintenis tussen die twee wat albei van hulle onmiddellik aanvoel. Dr Allie Bender, nog ’n internasionale hondekenner, het in die tydskrif Newsweek daarop gewys ander belangrike tekens is bv. ’n hond wat oor sy lippe lek en gaap asof hy gespanne is. Die eienaar moet weet wat die dier wil kommunikeer. ’n Britse hondekenner Zoe Willingham het aan Newsweek gesê honde kommunikeer deurentyd met ons, maar ons besef dit nie altyd nie. ’n Voorbeeld wat sy noem is bv. wanneer ’n hond gestreel word en liefdevolle aandag kry, laat hulle dikwels hul koppe sak, of kyk gereeld om hulle, gaap of lek hul lippe want hulle hou óf daarvan, óf verdra dit bloot. Indien die stert van ’n hond stadig swaai, is die hond waarskynlik bly om jou te sien, maar indien dit vinnig swaai, is die hond dalk buitengewoon waaksaam. As die hare op sy rug orent staan, is die dier waarskynlik gestres. Indien hy met sy bors op die grond en sy agterstewe in die lug staan, is hy gereed om met jou te speel.

Verveelde honde kry maniere om die aandag van hul eienaars te trek. Soms op die mees destruktiewe maniere. Hulle byt en verwoes dikwels meubelstukke wanneer hulle alleen gelaat word. Die boodskap is ‘ek wil nie alleen wees nie, gee aandag aan my’. Daarom moet eienaars besliste pogings aanwend om die konteks van hul hondegedrag te bepaal. Dis ook baie belangrik dat hulle weet wat die karaktertrekke en eienskappe van die betrokke honderas is sodat hulle ‘n beter begrip het van waarvoor die ras oorspronklik geteel is. ’n Eenvoudige voorbeeld is terriers sal baie meer geneig wees om jou tuin te verwoes want hulle doel in die lewe was oorspronklik om rotte en knaagdiere uit te wis.

Enkele opsommende aanmerkings: Hou alle aspekte van jou hond se lyftaal dop. ’n Waaiende stert kan baie dinge beteken, afhangend van die spesifieke ras en gemoedstoestand. ’n Stert wat laag gehou word, of tussen die bene is, wys hulle is bekommerd of gestres/bang. ’n Hoë stert beteken hy’s gefokus, wakker of opgewonde. Met ’n neutrale stertposisie is die hond waarskynlik ontspanne. Die posisie van die ore is ook betekenisvol: Vorentoe beteken gefokus en wakker. Agtertoe waarskynlik senuweeagtig of bang. Die oë is ewe belangrik. Indien jy die kleur kan sien, is hulle waarskynlik kalm. Indien die wit prominent is, is hulle waarskynlik bang of gestres. ‘Sagte’ oë is rustigheid, ’n gefokusde. ‘harde’ kyk die voorloper van baklei of byt. ’n Geboë kop beteken straks konflik-vermyding, ’n tong wat uithang waarskynlik ongemak, tesame met vinnige asemhaling, gewoonlik tekens van erge stress, of ’n mediese kondisie.

Die kenners wys daarop die geheim om hondegedrag te verstaan is om inligting daaroor in te win en dienooreenkomstig op te tree sodat die verhouding tussen dier en eienaar aangenaam en ’n groot ervaring vir albei is. Ek het dit met die Duitse Herdershonde goed onder die knie gehad. En maak goeie vordering met die Maltesers.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button