Suikersiekte – alhoemeer mense word slagoffers daarvan
Diabetes is besig om oral ter wêreld toe te neem, en ook hier in Suid-Afrika is daar groot kommer oor die algemene voorkoms van die siekte. Sowat een uit elke 11 volwassenes ter wêreld het in 2019 diabetes gehad, en 19-miljoen uit 436 was afkomstig uit Afrika suid van die Sahara. Sowat 60% van die
Diabetes is besig om oral ter wêreld toe te neem, en ook hier in Suid-Afrika is daar groot kommer oor die algemene voorkoms van die siekte. Sowat een uit elke 11 volwassenes ter wêreld het in 2019 diabetes gehad, en 19-miljoen uit 436 was afkomstig uit Afrika suid van die Sahara. Sowat 60% van die lyers was nie bewus van hulle toestand nie, en daar word beraam hierdie syfers kan teen 2045 verdubbel tot 45-miljoen. Hierdie syfers en ander insiggewende en belangrike inligting word vervat in ’n artikel van Annelie van Jaarsveldt op die wedwerf Afrikaans.com. Dit is ’n omvattende oorsig van die vele aspekte van die siekte, en net die belangrikste inligting word hier weergegee.
Van Jaarsveldt wys daarop suikersiekte is deesdae meer bekend as diabetes en daar word onderskei tussen tipe een- en tipe twee-diabetes. Die woord ‘diabetes’ kom uit die Grieks en beteken dit verhoogde of oormatige urinering – ’n simptoom wat algemeen voorkom in die aanvanklike simptome. Dit is egter nie so eenvoudig nie, want ’n wanbalans van hormone wat waterbalans beheer, kan ook verhoogde urinering tot gevolg hê, maar die kwaliteit van die urine verskil baie. Daarom dan die terme mellitus – wat soet beteken – en insipidus – wat helder beteken. Diabetes mellitus beskryf die groep toestande wat met te hoë bloedglukose gepaardgaan, terwyl en diabetes insipidus dui op ’n abnormaliteit in waterbalans in die nier of die hormone in die pituitêre klier.
Eenvoudiger gestel: Dit begin met wat jy eet – veral die koolhidrate (of stysels). Hierdie koolhidrate word afgebreek na glukose wat in die bloedstroom opgeneem word – dit is nou jou bloedsuiker. Die hormoon, insulien, word deur die pankreas vrygestel en dit help om die glukose in jou bloedstroom na jou selle te vervoer. Die glukose word opgeneem en produseer energie. Insulien help die liggaam om bloedsuikervlakke te reguleer en die energie te gebruik wat dit uit koolhidrate verkry.
Wanneer ’n persoon diabetes het, gebeur die volgende: Sy liggaam produseer te min of geen insulien nie – of sukkel om die insulien behoorlik te benut. Die glukose wat hy uit die koolhidrate gekry het, word nie optimaal na die selle oorgedra nie. Suiker bou nou op in die bloed en bloedsuikervlakke styg. Dit kan daartoe lei dat organe soos die niere, oë, senuwees en hart beskadig word. Die goeie nuus is dat diabetes met die regte behandeling bestuur kan word, en die diabeet kan ’n lang, gesonde en aktiewe lewe lei.
Wat bekeken tipe een en twee? Volgens Diabetes Suid-Afrika is daar steeds nie eenstemmigheid hieroor nie omdat dit lyk asof die verskillende tipes oorvleuel. Die huidige klassifikasie word daarom gebaseer op die oorsaak van die diabetes en nie die pasiënt se ouderdom en of insulien gebruik word of nie.
Tipe een staan bekend as outoïmmuun-diabetes en kom voor in sowat 5-10% van mense met diabetes. Vroeër het ons gepraat van insulien-afhanklike diabetes. Daar is nie insulien teenwoordig om glukose aan die selle oor te dra nie. Die gevolg is dat suiker in die bloedstroom opbou wat tot lewensbedreigende komplikasies kan lei. Dit is ’n genetiese en soms oorerflike, outoïmmuunversteuring wat vanaf geboorte teenwoordig is.
In plaas daarvan dat die immuunstelsel dan die liggaam teen skadelike infeksies en allergieë van buite beskerm, word die immuunstelsel deur ’n eksterne sneller geaktiveer en word die liggaam se eie selle aangeval. Aanvanklik kan die siekte verskuil wees, maar wanneer die bloedglukose skielik aansienlik toeneem, raak simptome sigbaar. Tipe Twee diabetes is die algemeenste soort diabetes waaraan ongeveer 90% van gevalle toegeskryf kan word. Die persoon is insulienweerstandig (gewoonlik weens ’n oormaat liggaamsvet) en ondervind ’n afname in insulienafskeiding vanuit die pankreas wat hoë bloedglukosevlakke veroorsaak.
Wat gebeur in die liggaam met diabetes? Insulien moet as’t ware die deur na die selle oopsluit, maar wanneer daar nie insulien teenwoordig is nie, word die glukose in die bloedvate vasgevang. Dit veroorsaak hiperglisemie oftewel hoë bloedglukose. Ormatige urinering kom voor wanneer die hoë bloedglukose deur die niere gefilter word, stort die oormatige glukose in die urine met ’n gepaardgaande toename in vloeistof.
Oormatige urinering is die gevolg. Hierdie glukose in die urine is soms die ideale teelaarde vir bakterieë om vastrapplek te kry en lei tot gereelde infeksies. Die oormatige verlies aan vloeistof stimuleer die dorssentrum en die persoon sal meer vloeistof inneem. Die gebrek aan glukose in die selle lei daartoe dat die selle smag na voedingstowwe vir energieproduksie en dus ander bronne moet soek. Proteïen- en vetreserwes word dan afgebreek om energie te verskaf. Die tipe een-diabeet gebruik hierdie bronne, maar wanneer dit uitgeput raak, begin die persoon gewig verloor. Omdat die energie wat verskaf word nie altyd optimaal is nie, kla die persoon dikwels van moegheid en tamheid.
Van Jaarsveldt verwys in die atikel na langtermyn-komplikaasies, en noem die uitvinding van insulien het die lewensverwagting van persone met tipe een diabetes dramaties verhoog – mits daar natuurlik by die behandeling gehou word. Een van die grootste uitdagings waarmee persone met tipe een diabetes daagliks te doen kry, is om te bepaal op watter tydstip die insulien toegedien moet word. Die besonderhede hiervan, plus ander belangrike inligting oor alle aspekte en behandeling van die siekte, word in die uiters insiggewende artikel genoem. Dis werklik die moeite werd om dit te lees. Kliek bloot op Afrikaans.com.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
