Griekwas verdien die beker, maar die Lions se ondersteuners weereens getraumatiseer
Die Watergat was vandeesweek Oom Pottieloos. Hy het verlede Vrydag Johannesburg toe gery vir die Curriebeker-eindstryd tussen sy geliefde Lions en die Griekwas. Ons het niks van hom gehoor nie, en aanvaar hy sou Sondagmiddag terug wees. Omstreeks om 12-uur Sondagmiddag het hy my gebel en gesê op sy ouderdom voel hy nie lus om
Die Watergat was vandeesweek Oom Pottieloos. Hy het verlede Vrydag Johannesburg toe gery vir die Curriebeker-eindstryd tussen sy geliefde Lions en die Griekwas. Ons het niks van hom gehoor nie, en aanvaar hy sou Sondagmiddag terug wees. Omstreeks om 12-uur Sondagmiddag het hy my gebel en gesê op sy ouderdom voel hy nie lus om te reis na die vorige middag se teleurstelling nie.
Hy wil liewer ’n paar dae by sy suster in Germiston, nie Ekhurleni nie, gaan bly om ‘sy kop skoon te kry’. Ek het hom nogal jammer gekry, want hy is reeds diep in die tagtig, hoewel nog redelik gesond en helder van gees, maar ek kon hoor sy ‘tjoepie was bietjie pap’, soos ons Samjoor in die ‘army’ altyd gesê het.
Hy is familie van vroulief, ’n wewenaar met net een dogter, en reeds ons ‘faktotum’ sedert die ontstaan van die Watergat meer as 20 jaar gelede. Ek kan my nie ons kuierplek sonder hom voorstel nie. Talle besoekers kom hierheen net om met hom te gesels. Hy is amper sewe dae per week minstens deur die dag hier. Met die skryf van hierdie rubriek was hy nog nie terug nie, maar het my intussen gebel en meegedeel hy kon dit eenvoudig nie verwerk dat die Lions twee jaar na mekaar, op Ellispark, die beker sowat ‘n minuut lank in die sakkie gehad het, en dit toe weggegooi het nie.
As ’n ‘Lion for Life’ sedert die vyftigerjare, wat self lank vir die ou Simmer en Jack-klub, soms op Ellispark, gespeel het, is sy hart in daardie veld ‘geplant’. Die verslaentheid en teleurstelling wat hy in die kleedkamer, saam met ’n vriend in die Lionsbestuur, op die spelers se gesigte gesien het, het hom diep getref. Dit was so naby, tog so ver.
Hy het, soos vorige kere, weereens melding gemaak van die kleinerige skare vir ’n Curriebeker-eindstryd. Ook die leë stadion tydens ander wedstryde. ‘Woutie, as hierdie wedstryd in enige ander stadion in die land, selfs in Kimberley gespeel is, was die plek vol toeskouers,’ het hy driftig verklaar. ‘Ellispark is ons nommer een ikoniese stadion, maar net met Springbok-wedstryde. Iets moet gou gedoen word. Die Lions moet begin bekers wen!’.
Ek stem saam. Hulle speel dikwels kookwaterrugby, het ’n fantastiese voedingsbron, maar sodra spelers begin naam maak, word hulle deur ander franchises gekoop. Die Sharks het verlede seisoen etlike top Lions-spelers aangeskaf, en nou wil die Bulle boonop vir Quan Horn, een van hul Spingboksterre hê. Dan is daar die afrigterkwessie. Cash van Rooyen is reeds meer as sewe seisoene daar, en kan niks daarvoor wys nie. Ook die gerugte dat die grootbaas Rudolf Straueli nie gewild is nie, dat hy inmeng, en dat van die spelers ongelukkig is. Iewers is iets groot verkeerd op Ellispark. En nou wag die VRK-wedstryde. Pottie moet homself maar voorberei vir nog pyn en lyding.
Ons loopstorie: ’n Ma vertel toe sy haar dogter die eerste keer ballet toe vat het die kind die storie so gekyk, en na haar ma oorgeleun en gesê: “Waarom dans hulle op hul tone? Hoekom kry hulle nie net langer meisies nie.”
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
