South Coast Fever

Wouter se watergat: Nà Lood se rooikaart wou ons gaan slaap

Gesprekke hier in die Watergat is weereens oorheers deur Springbokrugby, hoe anders nà hul spogvertoning verlede Saterdag?

Ek het dit tientalle kere in hierdie rubriek gesê, en ek sê dit weer: Dis angswekkend hoe vinnig die tyd verby gaan. Toe ek dit aan Oom Pottie noem, was sy antwoord: ‘Woutie, jy is in jou vyftigs. En jy dink die tyd vlieg? Wag totdat jy in jou tagtigs, op pad 90 toe is soos ek. Dan sal jy verstaan hoe vinnig die tyd verbygaan!”
Die rede waarom ek dit weer noem, is die verskaffers van ons skuimdrankies en wynstokprodukte het my, soos vorige jare, laat weet dat ons bestellings vir die Desembervakansie geplaas moet word sodat hulle hul voorraadbeplanning kan doen. Ek het vaagweg gedink dis reeds gedoen, maar toe ek my rekenaar raadpleeg, was die datum 12 November 2024. ’n Jaar gelede. Kon dit nie glo nie, maar die nodige gedoen.

Gesprekke hier in die Watergat is weereens oorheers deur Springbokrugby, hoe anders nà hul spogvertoning verlede Saterdag? Ek moet bieg, toe Lood de Jager ’n rooikaart gewys is, en die Bokke het nog nie juis beïndruk nie, met die Franse skare wat hul span luidkeels aanmoedig, was my moed in my skoene. Oom Pottie het homself verskoon omdat dit reeds elf-uur was en verklaar hy gaan slaap. Hy is gevolg deur ‘n hele paar besoekers wat skielik ook moeg geword het, en kiepie moes bly om die aand deur te sien.. Groot was ons bittereinders se vreugde toe die Bokke in die tweede helfte met ’n skittervertoning vorendag kom en die Franse opfrommel.

Malcolm Marx was verwoestend, hy was my speler van die wedstryd, en Sacha FN, soos ons hom noem, was skitterend, maar sy drie verbroude skoppe met ’n kleiner wen-of-verloor-punteverskil sou teen hom getel het. Die meesterskuif was egter, soos almal reeds weet, die besluit om Siya Kolisi met André Esterhuizen te vervang, hom op die verdediging flank te laat speel, en op die aanval senter. Het hy dit nie skitterend gedoen nie? Die 14 man het dus wanneer dit nodig was in 15 verander, sonder Lood. Dis al talle kere deur baie mense gesê: Rassie het nie sy gelyke nie. Hy sal waarskynlik eendag beskou word as die beste rugby-afrigter in die geskiedenis.

Ons stoute loopstorie kom uit Pottie se argief: ’n Jong getroude vrou omhels haar man: “Skat, ek is ’n maand laat, jy gaan pa word. Die dokter het dit bevestig. Ons moet egter eers stilbly tot op 14 weke want dinge kan dalk verkeerd loop.”

Die volgende dag lui die egpaar se voordeur-klokki.

’n Eskom-skuldinvorderaar staan op die drumpel.
“Mevrou Smuts? U is ’n maand laat, weet u dit?”
“Hoe, hoe weet u dit?” stotter sy verleë.
“Wel, mevrou ons monitor alles elektronies en dit wys op ons rekenaarstelsel dat u ’n maand laat is.”
Haar man storm die volgende oggend by die naaste Eskom-kantoor in. “Hoe weet julle my vrou is ’n maand laat, en watter nonsens is dit dat julle alles monitor?”

“Al wat u moet doen, is om ons te betaal, meneer.”
“En as ek weier om dit te doen?”
“Dan is die enigste opsie afsny.”
“Afsny? En wat van my vrou?”
“Wel, meneer sy sal maar ’n kers moet gebruik.”

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button