Nog bemoedigende voorspoedtekens – ook vir die Suidkus
Daar is inligting en statistiek uit verskeie oorde wat, soos die uwe twee weke gelede berig het, daarop dui dat Suid-Afrika op die oomblik positiewe momentum het.
Daar is bykomende tekens dat Suid-Afrika dalk, net dalk, ’n beter toekoms tegemoet gaan as wat die afgelope jare die geval was. Goeie nuus is ook dat die toekoms van die KwaZulu-Natalse Suidkus op die oomblik baie rooskleurig lyk, en dat sy inwoners kan moed skep, ten spyte van steeds teisterende swak dienslewering en -administrasie by talle munisipaliteite.
Daar is inligting en statistiek uit verskeie oorde wat, soos die uwe twee weke gelede berig het, daarop dui dat Suid-Afrika op die oomblik positiewe momentum het. Soos bv. dat die land die langste, ononderbroke kwartaallikse groei van sy Bruto Binnelandse Produk sal hê sedert die periode voor 2018, indien die groei ook in die vierde kwartaal van vanjaar voortduur. Die land se ekonomie het oor die afgelope dekades baie swaar gekry, en die gemiddelde BBP-groei was maar 0.8% oor die afgelope tien jaar.
Dus nie naastenby wat die land nodig het om sy werkloosheidsyfer of lewenspeil van sy mense te verbeter nie, en is heelwat laer as die Regering van Nasionale Eenheid se teiken van 3%. Karien Smuts van die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê hoewel Suid-Afrika se rieële BBP-groei in die derde kwartaal vanjaar tot 0.5% gesak het, is dit die land se vierde kwartaal van positiewe groei. Indien dieselfde tendens in vanjaar se vierde kwartaal voortduur, sal dit die langste periode van groei wees sedert sewe jaar gelede.
Ekonome beklemtoon gereeld die belangrikheid van die privaatsektor se rol in die land se ekonomiese gesondheid. Ná jare van wanbestuur en onverantwoordelike besteding, het die regering op sy eie nie die vermoë om betekenisvolle beleggings in die ekonomie te maak en sodoende vaste kapitaalformasie te bevorder nie. Daarom sal daar staatgemaak moet word op die privaatsektor wat sowat R1.8-triljoen het in kontant wat wag om in die ekonomie ingepomp te word. Die regering sal nog steeds ’n belangrike rol speel, want dit sal groei-vriendelike beleidsrigtings moet implementeer, en sleutelnywerhede dereguleer sodat die privaatsektor die beskikbare kontant kan investeer. In hierdie verband toon Suid-Afrika ook positiewe tekens met die sakevertroue-indeks wat met vyf punte tot 44 in die vierde kwartaal vanjaar gestyg het.
Smuts wys daarop dat die sakevertroue drie punte hoër is as die langtermyn-gemiddeld, wat beteken dat 44% van sy respondente tevrede is met die huidige saketoestand. Nog ’n positiewe teken is die regering se koste om geld te leen, wat 15 jaar lank gestyg het, het begin daal weens doelgerigte stappe om die leningsvrag ligter te maak, ’n laer inflasiekoersteiken, en die beter vertoning van die ekonomie. Die hoof van Citadel, Maarten Ackerman, meen die groei in die formasie van vaste kapitaal in die derde kwartaal is waarskynlik die positiefste teken. “Dit wys moontlik dat beleggings uit die privaatsektor hervat word en dat strukturele hervorming begin het”. Hy verwys daarna as ‘n ‘keerpunt’ in beleggingsaktiwiteit.
Dit beteken dat meer geld van die Staat se begroting vir infrastruktuur-beleggings, onderwys en mediese dienste gebruik kan word. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, het vandeesweek daarop gewys die laer inflasiekoers sal groot voordele vir die verbruiker inhou: Groter koopkrag, makliker finansiële omstandighede en stygende besteebare inkomste, wat alles bydra tot vinniger ekonomiese groei. “Laer inflasie beteken dat die Reserwebank meer ruimte het om sy beleidsrentekoers te verlaag, wat die koste van lenings verminder. Laer inflasie lei tot laer rentekoerse.”
Daar is nog verskeie positiewe tekens uit talle ander oorde waarvoor daar nie hier plek is nie, maar die oorwegende gevoel oor wat in die ekonomie aan die gang is, is uiters positief. Intussen lyk dit asof die verbeterende omstandighede ook in verskeie landstreke ingetree het, insluitende die KZN-Suidkus. Ten spyte van voortdurende dienslewering- en algemene swak regeringsprobleme, is die aanduidings daar dat die Suidkus ‘n betekenisvolle ‘herlewing’ toon. Ek het op die internet op verskeie berigte in hierdie verband afgekom, onder meer een deur Kirsten Minnaar van die Daily Investor, wat die algemene gevoel goed saamvat. Sy sê die Suidkus is besig om baie vinnig te verander in Suid-Afrika se ‘semigrasie-brandpunt’ met bekostigbare behuising, uitstekende waarde vir geld, en maklike toegang tot Gauteng dmv. die daaglikse vlugte van en na die Margate-lughawe.
Daarbenewens is die groot aantrekkingskrag die wonderlike klimaat, Blouvlag-strande, gehalte-gholfbane, ontspanne lewens-omstandighede en gemeenskapsgees. Die prysgaping tussen Suidkus-eiendomme en dié van die Noordkus en Wes-Kaapland, is groot, en biljoene rande wat in nuwe ontwikkelings belê word, skep groot vertroue in die toekoms. Daarbenewens is daar uitstekende skole en puik mediese dienste, wat ’n groot positiewe faktor is. Die onlangse aankondiging dat Port Shepstone die eerste klein dorp in Suid-Afrika is wat ’n nuwe hawe gaan kry, sal ’n groot faktor in die toekoms wees tov. werkskepping, stukrag vir die gebied se ekonomie, en ongetwyfeld die eiendomsmark. Wanneer ’n mens na die eiendomspryse van die Noord- en die Suidkus kyk, en seker maak appels word met appels vergelyk, is dit duidelik dat daar ’n baie groot verskil is.
Die uwe was een van diegene wat aanvanklik swaar gesluk het aan die positiewe boodskappe, maar alhoemeer kundiges bevestig dit, en meen een van die redes is die relatiewe stabiliteit wat die Regering van Nasionale eenheid gebring het. Ook die aanduidings dat die ANC besig is om sy greep op die regering te verloor, en dat ander partye ‘n groter aandeel in die landsregering gaan kry. Kom ons hou ons duime vas.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
