South Coast Fever

Johan Pretorius: Natuurbewaring uit die loop van ’n geweer?

Die syfers toon tussen 2016 en 2024 het beroepsjagters met staatspermitte die doodskiet van meer as 300,000 wilde diere deur internasionale kliënte verklaar in die beroepsjagterregisters wat aan die betrokke departement voorgelê is.

Die uwe het nog altyd aanvaar diere moet om ’n verskeidenheid redes gejag word. Onder meer om ouer ou diere te laat plek maak vir jonges, om kostes van wildplase te dek, ’n inkomste aan die eienaars te verseker, en natuurlik vir die pot. Oor die jare het ek agv. my beroep egter agtergekom dikwels word skaars diere geskiet deur jagters wat bereid is om derduisende dollar daarvoor te betaal. Wanneer vrae daaroor gevra word, word dieselfde verduideliking sonder uitsondering gegee dat dit noodsaakllik is vir natuurbewaring en die voortbestaan van sekere spesies.

Hierdie verduidelikings word moeilik om te aanvaar wanneer statistieke beskikbaar word ivm. met die bedrae betrokke, die getalle diere wat gejag word, en ook die spesies. Dit het vandeesweek weer met my gebeur. Die Daily Maverick, daardie simbool van puik joernalistiek in Suid-Afrika, het ’n berig gepubliseer waarin die jongste tersaaklike syfers oor jagbedrywighede in Suid-Afrika verskaf is. Die statistiek is saamgestel uit data en dokumente van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, en is verkry deur ’n ondersoekende omgewings-joernalis, reisskrywer en akademikjus, Dr Adam Cruise.
Hy spesialiseer in diere- en omgewings-etiek, en sê die inligting wat hy bekom het, dui nie op bewaring onder druk nie, maar wel die grootskaalse ‘uithaal’ van diere. Toegegee, mense soos Dr Cruise wat passievol is oor bewaring, is geneig om soms te oordryf, maar nadat ek die syfers onder oë gehad het, kan ek nie anders as om saam te stem met sy stelling nie dat die trofeë-jagbedryf ontbloot word as ’n markgedrewe bedryf tot voordeel van ’n klein groepie internasionale elite.

Dr Cruise verskaf gedetailleerde inligting en statistiek wat groot rooi ligte laat flits. Daar is nie hier ruimte vir alles nie, en ek noem van die vernaamste syfers ter onderskraging van sy stelling dat trofeëjag nie ’n bewarings-meganisme is waarop teësinnig besluit is nie, maar wel ’n groot, geïndustrialiseerde stelsel om wilde diere dood te skiet, genormaliseer deur regulasies, gesaniteer met bewaringstaal en onderhou deur politieke goedkeuring.

Die syfers toon tussen 2016 en 2024 het beroepsjagters met staatspermitte die doodskiet van meer as 300,000 wilde diere deur internasionale kliënte verklaar in die beroepsjagterregisters wat aan die betrokke departement voorgelê is. Hierdie syfers is nie skattings deur aktiviste of gelekte data nie. Dis getalle wat deur die bedryf verskaf en deur die Suid-Afrikaanse staat self saamgestel, aanvaar en geargiveer is.

Die diere wat gelys word, is nie beperk tot boksoorte nie, maar sluit in leeus, olifante, renosters, luiperds en ’n lang lys van spesies wat selde genoem word wanneer bewaring bespreek word: Bobbejane, otters, ratels, ape, wildekatte, jakkalse, eekhorings en ander diersoorte wat as wettige kommersiële teikens beskou word. Dr Cruise sê dis lankal nie meer skiet vir bestaansredes, kultuurpraktyke of getalle-beheer nie.

Dis ’n markgedrewe doodmaak-ekonomie. Suid-Afrika se trofeë-jagbedryf is oorwegend ’n buitelandse elite-mark, gedomineer deur kliënte uit Amerika en Europa. Die professionele jagter-statistieke vir 2024 toon dat uit 7 756 buitelandse jagters, meer as 5 000 Amerikaners of Kanadese was, terwyl 2149 uit Europa afkomstig was. Meer as 95% van die buitelandse jagters kom uit hierdie welgestelde lande. Dus ‘n luukse handelspraktyk vir ryk bujtelandse verbruikers. Die eksklusiwiteit word ook aan die verskafferskant opgemerk. Slegs 101 van die 2 786 geregistreerde jagters in 2022 kom uit voorheen benadeelde gemeenskappe.

Dr Cruise wys daarop die jagbedryf stel homself voor as bewaringsbewus, wetenskaplik en streng gereguleer. Die statistieke wys egter iets totaal anders. Jaar na jaar verskyn duisende inheemse diere op die registers. Van 2016 tot 2024 is bv. 3 600 leeus in Suid-Afrika alleen gejag. Teen sowat R250 000 per leeu, (syfers verskaf ) verteenwoordig dit ‘n doodskiet-ekonomie van R570-miljoen, oor minder as ‘n dekade. Die vraag is nie of dit winsgewend is nie. Maar wat word nou eintlik bewaar? Dan is daar nog die ‘geblikte leeu’-bedryf.

Leeus wat in gevangenisskap geteel, saam met mense groot word, word aan jag-ondernemings verkoop, en as bronne van beendere aangedui. Daar word nie ’n onderskeid tussen wilde en leeus in gevangenisskap gemaak nie. Dr Cruise verskaf nog kommerwekkende statistiek oor leeus waarvoor daar nie hier plek is nie.

Olifante en renosters word steeds gejag. Die redes is gewoonlik ‘ou bulle, probleemdiere’, met streng beheerde permitte. Die data toon egter iets meer kommerwekkend, naamlik normaliseiring deur herhaling. Sodra die skiet van diere aanvaar word as ‘n bewaringspraktyk, verdwyn die etiese beperkings baie vinnig. Olifante word teen R600 000 tot R1-miljoen per dier bemark. Renosters tussen R1.5- en R3-miljoen per dier. Tussen 2016 en 2026 is bykans 3 000 chacma-bobbejane gejag, sowat 2 000 jakkalse, meer as 350 ratels, sowat 300 bruin hiënas, en selfs otters, krimpvarkies en eekhorings. Laasgenoemde diere word bitter min as trofeë aangedui, maar bly legitieme teikens.

Dr Cruise sê trofeejag gedy in Suid-Afrika nie omdat dit ekologies aanvaarbaar is nie, maar wel polities aanvaarbaar. Dit verskaf ’n inkomste uit die buiteland sonder ’n verduideliking hoeveel daarvan na die plaaslike gemeenskappe gaan. Suid-Afrika se jagstatistiek beskryf nie ’n bewarings-suksesverhaal nie, maar ‘n morele regverdiging vir die jag van diere op nywerheidsvlakke, iets wat oor dekades verfyn is, en beskerm word deur regulasies en wetenskaplike taal. Dr Cruise sê sodra die getalle duidelik gesien word, leeu vir leeu, olifant vir olifant, renoster vir renoster, bobbejaan vir bobbejaan, word dit moeilik om weg te verduidelik. En onmoontlik om dit te ‘ontsien’. Stem heelhartig saam.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button