South Coast Fever

Johan Pretorius: Waarom vermink ons Afrikaans so?

‘Uitmis’ is die woord wat my op die oomblik die meeste irriteer.

Die uwe is die afgelope paar dae weereens mateloos geïrriteer deur bekende Afrikaanssprekendes wat aanhoudend Engelse woorde in onderhoude, gesprekke of op die sosiale media gebruik. Of regstreekse vertalings. Verlede Vrydag het Bakkies Botha van Springbokfaam op die program Toks en Tjops weer interessante en kundige insette gelewer. Hy het egter, soos by vorige geleenthede, aanhoudend die woorde ‘game’, ‘log’, ‘tackle’, ‘line-out’ en nog talle ander gebruik. Een of twee keer kan ’n mens nog verstaan, maar deurentyd?

Bakkies is ongelukkig een van baie Afrikaanssprekendes, (sangers, akteurs en ander bekendes) wat praat van ‘awesome’, ‘great’, ‘stunning’, ‘songs’, ‘actually’, ‘ek love dit’ en vele ander. Voeg hierby regstreekse vertalings uit Engels waaraan ek onlangs herinner is toe ek afgekom het op ’n webwerf wat oudhede adverteer. Talle advertensies word met fotos geplaas, en die woorde ‘maak ’n offer’. Dan vra ek myself: ‘Myself, wat op aarde moet geoffer word? Dis tog ’n aanbod in Afrikaans. In gesprekke, aankondigings en advertensies op radio en TV kom ander misbaksels soos ‘breek’ pleks van pouse, ‘gaan groot’, en ‘dit is dit vir die nuus’ gereeld voor. ‘Uitmis’ is die woord wat my op die oomblik die meeste irriteer. Dis iets wat gebeur nadat mens of dier geëet het, en nie wanneer jy iets misgeloop het nie.

Ek is nie ’n ‘taalbul’ of hipersensitief vir ’n Engelse woord hier en daar nie, maar het bloot ’n hekel daarin dat mense weens watter rede ookal, nie respek vir Afrikaans het nie. Hiermee bedoel ek nie dat iets soos ‘Kaapse Afrikaans’ of ander variante nie ’n plek in ons taalspektrum het nie. Inteendeel. My probleem is met ’n soort onkunde, onwilligheid of dalk luiheid om in Afrikaans te kan dink en nie Engelse uitdrukkings regstreeks te vertaal, of Engelse woorde goedsmoeds te gebruik nie. In ’n rubriek ’n paar jaar gelede het ek oor dieselfde tendens met Afrikaans gekla, en destyds verwys na ’n rubriek deur die bekende Dana Snyman, bekend vir sy besonderse vermoëns met die Afrikaanse taal. Ek herhaal dit hier, want dit dra steeds ’n baie geldige boodskap:

“Dit was die jaar toe ons suiwer en korrekte Afrikaans probeer praat het – baie meer as nou. Ek onthou Pa het so ’n klein, geel boekie van die Taaldiensburo in Pretoria af bestel. Met Afrikaanse motorterme in. Daar was ook ander sulke geel boekies, ook opgestel en gepubliseer deur die Taaldiensburo, ’n afdeling van die Departement van Onderwys: Afrikaanse ekonomieterme, Afrikaanse landbouterme, Afrikaanse kunsterme. Daar was ook die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks woordeboeke: ’n Fisikawoordeboek, ’n Aptekerswoordeboek… Daar was selfs ’n brandweerwoordeboek, met Afrikaanse vertalings van Engelse brandweerwoorde in.

Oorlede Pa, trotste Afrikaner wat hy was, was veral besorg oor hoe ons Afrikaans versaak wanneer ons oor motors gesels. Let wel, dit is ’n motor. Nie ’n kar nie. ’n Kar is daardie ding wat ’n donkie of ’n perd trek. En Pa het nie ons Valiant in die garage by die huis gebêre nie. Die woord garage is as ’n Franse indringerwoord beskou. Die Valiant het in die motorhuis gestaan. Ons het ook nie die Valiant se tenk by oom Bennie se garage vol brandstof laat tap nie. Ons het die Valiant by oom Bennie se vulstasie laat volmaak. En jy hou nie by ’n robot stil nie, dis ’n verkeerslig. Sulke verkille en onderskeide was vir ons belangrik. Ek sien Pa nog met daardie geel boekie vol Afrikaanse motorterme in die hand. “Toe, sê vir my,” sou hy vra. “Wat is ’n motor se carburettor in Afrikaans?” “Ek weet nie, Pa. Wat?” “’n Vergasser.” “En ’n distributor?” “Nie ’n idee nie, Pa.” “’n Vonkverdeler.”

Dan was daar daardie ander een wat byna niemand reg kon kry nie: “Wat is ’n motor se starter in Afrikaans?” “’n Aansitter, Pa.” “Nee. ’n Knormoer.” Oom Dries het ges? ’n knormoer klink vir hom meer na die regte benaming vir sy skoonma, tog het hy probeer om van ’n knormoer eerder as ’n “starter” te praat. ’n “Tube” was vir ons ’n “binneband”, en ’n “tyre” was ’n “band”, wat jy nie oor ’n “rim” getrek het nie, dit was ’n “velling”. Ons het T-been-biefstuk en beeshaas geëet, en nee, daardie beenlose homp vleis was nie “rump” nie. Dit was kruisskyf. En Kerfees het ons nie “trifle” geëet nie, dit was nie “koekstruif”’. Niks was ooit vir ons “amazing” of “awesome” nie. Dit was “mooi” of “verruklik” of “uitsonderlik” of… Afrikaans was ons erns.

Dit was of daar ’n soort paniekerigheid onder ons was wanneer ’n vreemde ding of iets in die land verskyn het waarvoor ons nog nie ’n Afrikaanse woord gehad het nie. Oorlede Ma het tot met haar dood nog van “jannas” gepraat – die Taalburo-woord vir ’n denimbroek. “Jy moet vir jou nuwe jannas kry, Seun. Daardie een is gedaan.” Toe die eerste TV-uitsendings in ’76 in die land begin het baie van ons gepraat van “beeldradio” eerder as “televisie”. Later in daardie jaar, 1976, toe duisende kinders in Soweto – en later ook grootmense, oor die land heen – in opstand kom, soldate in die strate, Hector Pietersen dood in die stof, omdat hulle verplig was om Afrikaans op skool te leer, was dit vir soveel van ons ’n verrassing en kon ons dit nie mooi verstaan nie.”

Inderdaad, Dana.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button