Wouter se Watergat: Die brug is oop – vir hoe lank?
Na ’n vergadering van belanghebbendes is aangekondig die brug sou verlede Maandag heropen word, en toe die rubriek geskryf is, was hy oop.
Weer ’n stillerige week hier in die Watergat. Ons het die geleentheid benut om behoorlike voorraadbeplanning vir die Paasnaweek wat om die draai is, te doen, en by die verhuurders van vakansie-akkomodasie it te vind wat hul verwagtinge is. Die rede is indien die besprekings goed is. Die betrokkenes was feitlik deur die bank onseker oor wat te wagte kan wees, want baie besoekers bespreek in die tien dae voor die Paasnaweek, en weens die onsekerheid oor die moontlike kwaai stygingsvan die petrolprys, en die rimpel-effek wat dit gaan hê, gaan ’n groot aantal voornemende besoekers besluit om tuis te bly. Ons sal maar sien wat gebeur. Intussen sê Oom Pottie wat hy noem die ‘Orosman in die Withuis’ sleg in taal wat ek nie kan waag om hier te herhaal nie.
’n Groot besprekingspunt was weereens die situasie tov. van die heropening van die brug oor die Umzimkhulurivier op Port Shepstone. Na ’n vergadering van belanghebbendes is aangekondig die brug sou verlede Maandag heropen word, en toe die rubriek geskryf is, was hy oop. Ek hoop van harte hy is nog steeds oop. Die situasie het belaglik begin raak met die groot verkeersknope, aanhoudende tolgeld op die snelweg en sake-ondernemings wat in die proses baie geld verloor het. Ek wil nie weer kla oor die totale gemors wat die provinsie en die kontrakteurs van die herstelproses gemaak het nie, want dis futiel. Ons kan net hoop dat die plaaslike verkiesings later vanjaar meer bekwame mense in ons stadsrade gaan meebring, iets wat hier by ons in KZN onwaarskynlik lyk met die dominansie van die Umkhonto We SIESSwe-party, soos Pottie na hulle verwys. Daar was ook weer verskeie klagtes onder die besoekers oor wateronderbrekings, hierdie keer veral noord van Port Shepstone in plekke soos Sea Park. Die swak kommunikasie van Ugu vererger die situasie net verder. Sug.
Aan die sportfront het ons lekker gekyk na die wedstryde in die Ses Nasies-kompetisie, en so gehoop Skotland wen die titel. Ongelukkig het die verskillende uitslae bepaal dat Frankryk weer bo geëindig het, hoewel dit nie so maklik soos verlede jaar was nie. Ons was nogal verbaas oor die oorwinning van die Stormers oor die Bulls in die VRK-kompetisie, maar die tekens was daar toe die Stormers in die skrums en losspel die oorhand begin kry het na die Bulle sleutelmanne in die voorry vervang het. Weet nie waarom Johan Ackerman-hulle dit gedoen het nie. Ewenwel, die Stormers het verdien om te wen, en het hul posisie op die VRK-punteleer verstewig. Ons wag nou om te sien wat ons Sharks gaan doen. Hulle is elfde op die punteleer, en kan nie weer verloor indien hulle die uitspeelfase wil haal en vir aanstaande jaar se Kampioene-bekerkompetisie kwalifiseer nie. Hulle speel Saterdag in Durban teen Munster.
Ons loopstorie kom via Jan Snijders van Goodwood uit die Kaap: ’n Man in Mitchell’s Plain stuur sy vrou om inkopies te doen. Sy kom terug met drie kiste bier, twee bokse brandewyn, een boks vodka, een kis Coke en twee brode. Hy kyk haar so en vra: ‘Kry ons dan visitors?’ ‘Nee, hoekom vra djy?’ ‘Vir wat koop djy dan so baie brood?’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
