Stiltetyd: Raadpleeg God deurentyd
Ons lees in Josua 9 van Israel wat sukses op sukses op die slagveld behaal.
Die skyn bedrieg soms. Soms word mens onkant gevang deur ’n situasie, hetsy vanweë oormatige selfvertroue, of jy is nie waaksaam nie. Dan is jy blind vir misleiding. Paulus in 2 Korintiërs 11:14 stel dit tereg naamlik dat die Satan hom kan voordoen as ’n engel van die lig. Misleiding deur mense maak dat ’n mens soms slegte stelle aftrap wat jou duur te staan kom. Ons lees in Josua 9 van Israel wat sukses op sukses op die slagveld behaal. Dit lei daartoe dat die inwoners van die gebied besluit om saam te staan om hulself teen Israel te verdedig.
Die Gibeoniete het egter gehoor van die val van Jerigo en Ai, en tree volgens Josua 9:4 slinks op. Hulle trek verslete en gelapte klere en sandale aan, dra ou droë brood saam as padkos en gee voor dat hulle van ’n ver land af kom. Hulle versoek dat daar ’n verdrag met hulle gesluit word om hulle van enige vyandige optrede te vrywaar. Die leiers van Israel laat hulle met ’n slap riem vang en bied die Gibeoniete vrede aan. Daar staan egter in Josua 9:14 die belangrike woorde: “Maar die Here se beslissing het hulle nie gevra nie.”
Die Gibeoniete val Israel nie aan met krag en geweld nie, maar werk met slim diplomasie en misleiding. Israel het ondersoek ingestel en toe hulle woord aanvaar op grond van die ou padkos, maar kon nie deur hulle taktiek sien nie, want hulle raadpleeg nie die Here nie. Uiteindelik moes hulle die Gibeoniete op grond van bindende eed laat leef, maar wys aan hulle ondergeskikte rolle toe in die gemeenskap.
Hulle moes die harde werk doen. Menslike wysheid word dwaasheid as dit nie aan God se raad onderworpe is nie. God werk ook deur die insident en skep iets moois. Die Gibeoniete doen diens by die altaar van die Here en in Nehemia 3 lees ons dat hulle selfs help om die mure van Jerusalem te herbou na die stad se val. Wie net op eie insigte staatmaak en God nie raadpleeg nie, sit met die gebakte pere. God is egter genadig en kan ons verbroude kanse omskep tot geleenthede, maar moenie met vuur speel nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
