Johan Pretorius: Joernalistieke nostalgie van 50 jaar gelede
Dit het my dikwels laat wonder waarom ek nie liewer 'n makliker loopbaan soos bv. 'n breinchirurg gekies het nie.
Die uwe het die afgelope week weer deur ou dokumente en foto’s gewerk om te besluit wat moet behoue bly en wat nie, en afgekom op ‘n berig wat ek jare gelede geskryf het. En besef die gebeure het bykans 50 jaar gelede plaasgevind. Lesers van die SC Fever, veral die ouer garde, behoort dit interessant te vind. Ek herhaal dit hier.
In 1976 het ‘n groep joernaliste die destydse premier, mnr. John Vorster, na Duitsland vergesel het op die eerste van drie reise vir samesprekings met die Amerikaanse minister van buitelandse sake, dr. Henry Kissinger. Op die meegaande foto is ons in ‘n kuierplek in München net voor ons vertrek na Bodenmais in Beiere waar die ontmoetings was. Bekendes van destyds is onder andere Alf Ries, Neville Krige en Hennie Pretorius aan die regterkant, John Patten links, en heel agter met die groot bierbeker Ormande Pollok. Heel links agter is die beste kameraman met wie ek in my lewe saamgewerk het, insluitende buitelanders.
Al die ander SAUK-kameramanne wat óf tuis óf saam op buitelandse sendings gereis het, was puik, maar George De’Ath was in ‘n kategorie van sy eie. George het as ‘n opgeleide joernalis besluit kamerawerk is eerder sy forte. Hy het sy Arriflex- filmkameratoerusting, en later die reeks weergalose Sony-videokameras soos die spreekwoordelike palm van sy hand geken. Daarbenewens het hy ‘n ‘nuusneus’ sonder weerga gehad. Op hierdie sending het hy die ervare buitelanders by drie geleenthede so uitoorlê met ‘n buitengewone voorgevoel en blitsvinnige reaksies dat ABC en CBS van sy materiaal by die SAUK gekoop het eerder as om hul eie te gebruik. Dit was die uwe se eerste buitelandse sending, en die onsekere ek het ‘n vragie hier en daar bygedra, maar my hooftaak was om die filmmateriaal van Neville Krige se onderhoude en nuusdekking, geredigeer te kry en per satelliet na Suid-Afrika versend te kry.
Dit was die eerste keer dat die SAUK op hierdie manier van satelliet-uitsendings gebruik gemaak het, en vir hierdie onervare TV-verslaggewer ‘n totale nagmerrie. Duitse redigeerders wat streng volgens vakbondreëls werk wie se Engels so sleg is soos my Duits, daaglikse jaagtogte op die Autobahn tussen Bonn en Keulen om filmmateriaal ontwikkel en geredigeer te kry betyds vir die satelliet-voertyd na Suid-Afrika, en Duitse tikmasjiene met ( vir my ) onverstaanbare taaltekens/ikone op die sleutels waarmee ek inleidings en tekste moes skryf.
Dit het my dikwels laat wonder waarom ek nie liewer ‘n makliker loopbaan soos bv. ‘n breinchirurg gekies het nie. Gelukkig was dit alles uiteindelik die moeite werd, want die Stellenbosch-Boerewynmakery het my later bekroon met hul 1976-toekenning vir ondernemende joernalistiek. Die kersie op die koek was toe dit aan my oorhandig is deur die destydse doyen van TV-ankers, Walter Cronkite van CBS. Weens die onluste in Soweto enkele dae voordat ons vertrek het, was die sending deurentyd in die weegskaal en het die gebeure soos ‘n wolk oor ons gehang. Op die vliegtuig soontoe is ons vroegoggend net voor die landing in Duitsland vorentoe geroep na die eersteklas-gedeelte waar die premier en mense soos dr. Brand Fourie gesit het.
In daardie stadium het ek premier Vorster net skrams geken, en was as ‘n onervare politieke joernalis redelik skrikkerig vir hom. Nietemin val ek met die deur in die huis en met George se Arriflex wat in die agtergrond grrrrrrrr, vra ek ewe kordaat: ‘Eerste Minister, die onluste in Soweto het wêreldwyd groot negatiewe publisiteit vir Suid-Afrika meegebring. Dink u dit sal enige invloed hê op u samesprekings met dr. Kissinger oor Suidwes-Afrika?’ Mnr. Vorster het stip na my gekyk, maar dis al. Net gekyk. Niks gesê nie. OK, dink ek, hy het my dalk nie gehoor nie weens die geluid van die vliegtuigmotore.
Ek het die vraag herhaal. Weer net ‘n ‘deadpan’-uitdrukking op die Eerste Minister se gesig, en geen geluid behalwe die motore nie. Net toe ek voel ‘n koue sweet begin op my voorkop uitslaan, pomp Alf Ries, reeds ‘n persgalery-veteraan, aan my regterkant soos ons oor die vliegtuig-sitplekke leun, my in die ribbes. Ek kry die boodskap, en vra mnr. Vorster of hy verwag hy en dr. Kissinger sal vrugbare samesprekings hê. Hy antwoord onmiddellik hy dink beslis so ja…..ens. ens. Probleem opgelos, maar my oorspronklike vraag sneuwel. Soweto sou nietemin ‘n groot rol in die samesprekings speel.
George De’Ath en ek het groot pret saam gehad, ook in Duitsland, te midde van al die harde werk. Hy het voorgestel dat ons ‘n dokumentêre program maak oor ‘n luukse bordeel in München waar regerings-Mercedesse gekom en gegaan het. Nie gerealiseer nie, en ons is amper in die proses opgefoeter. Ek het nooit besef ‘pimps’ kan so aggressief wees nie. Ongelukkig ‘n storie vir ‘n ander dag.
Die toekoms het vir hom egter erge teëspoed ingehou. Hy was later so gesog as kameraman, dat hy deur buitelandse netwerke by die SAUK weggelok is met aanloklike vryskut-aanbiedinge. George het soveel geld verdien dat hy op ‘n baie jong ouderdom welgesteld was met ‘n ‘E-type’ Jaguar as ryding en ‘n luukse blyplek naby Clifton. Sy lewe is skielik tragies beëindig toe hy in die vroeë tagtigerjare tydens die politieke geweld in Kaapstad deur ‘n bende ‘Witdoeke’ doodgekap is. Hy het hulle met sy kamera agternagesit, is in ‘n lokval gelei en het sy lewe verloor. Sal hom nooit vergeet nie.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
