Wouter se Watergat: Onwettige koedoeskiet veroorsaak pyn
Ons glimlag vir die week kom van Piet Jansen van Hibberdene wat oor twee weke op sy jaarlikse jagweek na die Bosveld vertrek.
Weer ’n baie stil week, nogal baie warm vir hierdie tyd van die jaar, baie min vakansiegangers, en ’n rustige klompie dae. Die hoof-sportaantrekkingskrag was die tennis in Monte Carlo en die IPL krieketliga.
Ons het vanjaar ons belangstelling van die verlede in lg. ietwat verloor omdat daar so min Suid-Afrikaners daagliks te siene is. En behalwe vir Aiden Markram, Heinrich Klaasen en David Miller in die wedstryde wat ons gekyk het, was daar nie veel vir Suid-Afrikaners om oor opgewonde te raak nie. Ons boulers, behalwe miskien Lungi Ngidi, het nog nie uitgeblink nie. Kagiso Rabada word deesdae te maklik rondgeslaan as een van die voorste internasionale snelboulers. Ewenwel, verlede naweek was daar net Europese rugby-wedstryde, maar die komende naweek is die Suid-Afrikaanse spanne weer in aksie. Ons hou ons duim vas dat die Sharks ons nie weer teleurstel nie.
Verder die veel te berig nie, behalwe die stryery oor Trump, waarvoor ons g*tvol is, en die alewige water-onderbrekings. Ons glimlag vir die week kom van Piet Jansen van Hibberdene wat oor twee weke op sy jaarlikse jagweek na die Bosveld vertrek. Hy het ons herinner aan ’n jagstorie van ’n paar jaar gelede, en ek herhaal dit vir lesers wat dit nog nie gehoor het nie. Nogal iets besonders, en blykbaar ’n ware verhaal:
Janneman le Roux was so 20 jaar gelede ’n kranige wildboer met ’n wapenwinkel op ’n dorp in Noordwes. Op ’n dag ry hy oor sy plaas, en hy sien minder Koedoes. ’n Week later vertel een van sy werkers hom hy het iets in die nag gehoor en ligte gesien. Janneman sit die volgende aand in die donker in sy Fortuner naby aan sy plaashek. Hy het skaars in die donker stilgehou, toe ry ’n bakkie stadig, sonder ligte, by sy hek in. Die bakkie verdwyn en Janneman sit en wag tot hy ’n skoot hoor klap. Hy ry in die skoot se rigting. Drie mans is besig om ’n Koedoebul af te slag. Hy sluip stil-stil na die bakkie toe… en ja, daar lê drie gewere agterop. Baie duur wapens. Hy vat hulle, skakel sy jaglig aan en loop na die mans toe. Hulle skrik hulle boeglam. Hulle weet nie wie Janneman is of op wie se plaas hulle is nie. Maar Janneman is ewe vriendelik. Hy vra hulle waarom hulle so in die donker sukkel, en nooi hulle na sy huis toe vir ’n braai en drankies.
Die drie kom oor hul ergste skrik, en op pad terug stop hulle by Janneman se huis. Die sluipjagters is die ene senuwees, en Janneman sukkel om hul name te wete te kom. Die vier gesels oor koeitjies en kalfies, en hoe meer die drie probeer ry, hoe meer gesels Janneman. Hulle wurg hul tjoppies en brandewyne af, maar Janneman is die ene vriendelikheid en eet lekker. Uiteindelik groet hy hulle. Die oudste van die drie skraap moed bymekaar. ‘Kan ons maar ons gewere kry?’ ‘Natuurlik’, antwoord Janneman. ‘Julle ken die geweerwinkel op die dorp? Dis myne. Ek sal daar wees. Kom haal julle gewere daar. Bring sommer twintigduisend rand vir die koedoe saam.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
