South Coast Fever

Stiltetyd: Twyfelaars is welkom by Jesus

Om te twyfel aan jouself, aan die lewe, demp mens se vreugde en laat jou soms passief en met gevoelens van hulpeloosheid.

Twyfel is eie aan die mens. Dit is deel van die lewe en as dit reg bestuur word, kan dit lei tot dieper nadenke en selfs groei. Daarteenoor, as twyfel nie reg geadresseer word nie, kan dit lei tot stagnasie of selfs toekomsvrees aanwakker. Om te twyfel aan jouself, aan die lewe, demp mens se vreugde en laat jou soms passief en met gevoelens van hulpeloosheid. Dit kan lei tot wat in die literatuur genoem word ‘overthinking’. Jou gedagtes is in ’n warboel en dit kan lei tot gevoelens van wanhoop en vasgelooptheid.

In die tyd tussen Sy opstanding en Hemelvaart verskyn Jesus aan Sy dissipels. Sy verskyning versterk hulle geloof. Daar was egter een dissipel met die naam Thomas wat nie tussen hulle was toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Sy naam was Thomas. Ons lees van hom in Johannes 20:24 tot 29. Hy het getwyfel daaraan of Jesus werklik uit die dood opgestaan het. Hy het gesê dat as hy nie die merke sien van die spykers in Jesus se hande en Sy vingers steek in die spyker merke nie en sy hand in Jesus se verwonde sy steek nie, hy nooit sal glo nie. Dan verskyn Jesus aan hulle terwyl die deure gesluit was. Jesus veroordeel nie vir Thomas oor sy twyfel nie.

Inteendeel. Jesus nooi Thomas nader en stoot hom nie weg nie. Hy nooi hom om na Sy hande te kyk en sy vinger in Jesus se sy te steek en vir homself sekerheid te verkry dat dit werklik die opgestane Jesus is wat in hulle midde verskyn. Dan gee Thomas die duidelike belydenis dat Jesus sy Here en sy God is. Daar is ’n ou-ou lied wat lui dat ek al my twyfel na Jesus toe kan bring, want Hy sal Sy beloftes hou. Nimmer hoef ek ooit te twyfel, aan Sy Woord bly Hy getrou. Jesus het voor Sy kruisiging beloof dat Hy uit die dood sou opstaan en Hy het. Wanneer twyfel jou beetpak, kan jy gerus doen wat Thomas gedoen het, dit na Jesus toe bring. Twyfelaars is by Hom welkom. Hy nooi jou vandag om te kom. Sy teenwoordigheid omskep twyfel in geloof.

HAVE YOUR SAY

Like the South Coast Fever’s Facebook page

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button