Johan Pretorius: Unieke ervarings met ‘n besonderse mens
Een van hierdie politici was Pik Botha, dertien jaar lank die minister van buitelandse sake en uiters gewild by die publiek weens sy charismatiese geaardheid, redenasievermoë, vlymskerp intellek, en verwysingsraamwerk.
Op hierdie 27e dag van April, Vryheidsdag, sit hierdie ou man en wonder waaroor om te skryf. Vryheidsdag, die herdenking van Suid-Afrika se oorgang van die Apartheidsera na ’n nuwe rondwetelike bedeling. Ek was baie jare van my lewe ’n politieke korrespondent in die Persgalery, en het eerstehandse kennis gedra van wat veral agter die skerms onderweg na 1994 aan die gang was. Uiteraard was dit noodsaaklik dat ons politieke joernaliste noue kontak met die politici van alle partye behou het. In die proses het ons verskeie van hulle, van alle partye, oor die jare goed leer ken, en hoewel daar by tye wrywing oor verskeie onderwerpe was, was daar wedersydse respek en welwillendheid tussen die meeste van ons joernaliste en hulle.
Een van hierdie politici was Pik Botha, dertien jaar lank die minister van buitelandse sake en uiters gewild by die publiek weens sy charismatiese geaardheid, redenasievermoë, vlymskerp intellek, en verwysingsraamwerk. Hy het sy vyande gehad, veral in die regse politieke geledere, maar ook in sy eie party. Weens sy portefeulje was hy gereeld in die nuus en ons joernaliste met hom in verbinding. Dit was my voorreg om hom as deel van verskillende joernalistegroepe minstens 12 keer op buitelandse reise te vergesel.
Omdat 27 April ook sy geboortedag is, en hy 94 jaar oud sou wees, het ek besluit om ’n paar herinneringe te deel. Ek het in vroeëre rubrieke verwys na verskeie reise na Europa saam met hom en die Eerste Minister/Presidente John Vorster en PW Botha, ’n besoek aan Rusland net saam met hom. Tydens een van twee reise in die middel-tagtigs na Rome waar Pik en Chester Crocker van Amerika dringende samesprekings oor Suidwes-Afrika gehad het, was daar ’n ‘af-Sondag’. Hy het my saamgenooi, en ons twee het al die pad van die spoggerige Hässler-hotel aan die bokant van die Spaanse trappe, tot by die Vatikaan geloop.
Binne die St Petrus-katedraal was daar verskeie dienste aan die gang en ons het besluit om verder te stap na ’n buurkerk, wat die pouse se ‘persoonlike kerk’ is waar hulle aanbid, het Pik my meegedeel. Ons het stilweg binnegegaan en gaan sit met die idee om net waar te neem, maar is eers ’n uur later daar uit. Ons is albei getref deur die oorweldigende gewyde atmosfeer, die sang, en die rustigheid in ons gemoedere. Ons kon die Latynse formuliere redelik volg omdat albei van ons lank gelede met Latyn deurmekaar was. Die diens was iets baie besonders vir twee besoekende Protestante.
Tydens die Europese besoek van President FW de Klerk aan Europa in 1990 het Pik Botha my in Zürich gevra of ons kameraman en ek hom vir die naweek na Turkye wil vergesel waar hy sy Turkse eweknie sou ontmoet en die plek verken. Ek moes net onderneem om oor niks verslag te doen nie, tensy met toestemming. Ons is die Saterdagoggend stil-stil per vliegtuig weg na Ankara. Ons twee SAUK-mense is tydelik as diplomate in die klein groepie ‘vermom’, die kamera goed versteek net vir ‘toeristegebruik’.
Ons was deel van die vergaderings, het ons bes gedoen om soos diplomate te lyk, ewe pligsgetrou notas geskryf, belangstellend die gesprekke ‘gevolg’. Gelukkig het die Turke ons nie vrae gevra nie. Ná die vergadering in die redelik oninteressante Ankara, is ons Istanboel toe waar geeneen van ons nog was nie, ook nie Pik nie, en het vyfsterbehandeling van die Turkse regering ontvang. Moskees wat nie vir die publiek oop is nie, en die ander top-aantreklikhede van die stad met BBP-behandeling en bloulig-voertuie.
Istanboel is inderdaad ’n asemrowende stad. Die Saterdagaand het ons in ’n ongelooflik-kuukse BBP-gastehuis wat 200 jaar gelede ’n paleis van een van die destydse Pasja’s was, oornag. Was nog nooit in my lewe in so ’n blyplek nie. Sondag na nog vekennings ’n wonderlike, tydsame maaltyd geniet by ’n eg Turkse restaurant met ’n ongelooflike uitsig oor die Bosforus, voordat ons terug is na Zürich, waar ons stil-stil aangekom het sonder dat ons joernaliskollegas geweet het ons was weg .
Daar was verskeie ander aangename herinneringe oor ’n tydperk van 16 jaar saam met Pik Botha. Besoeke in klein groepies SAUK-kollegas en buitelandse sake-amptenare, onder andere aan Ostia Anctica en Tivoli in Italië, Fado- en Flamenco-vertonings in Lissabon en Madrid, ’n onvergeetlike aand in ’n restaurant Da Mea Petacca in Trastevere, Rome, toe drie tafellampe onverklaarbaar in ons bagasie beland het, (een staan op ons eetkamertafel) en ’n plesierrirrit van Lissabon na Oporto en terug (om die stad se bekende produk te toets), kuiers by weermagkampe in die operasionele gebied, reise na Afrikalande soos Malawi, die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Ivoorkus en Senegal.
Voeg daarby jagtogte by sy geliefde Matlabas. Herinneringe saam met ’n besonderse mens. Oor ’n tydperk van 16 jaar het daarsoms harde woorde tussen ons geval oor meningsverskille, veral oor nuusdekking, maar die interpsoonlkke verhouding is nooit versteur nie.
Sedert my vertrek by die SAUK in 1994 het ons kontak behou, en tot en met sy dood mekaar so elke ses maande gebel om te hoor hoe dit gaan. In 2016 by hom en Ina in San Lameer aan die Suidkus gaan kuier. Die laaste keer dat ek hom in lewende lywe gesien het. Pik het sy foute en vyande gehad, maar hy het my lewe oneindig baie verryk. RIV Pik. Pereunt et Imputantur.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
