’n Skielike doodsvonnis nogal traumaties
Joernaliste was deur die jare oral in die wêreld die teikens van politici en hul ondersteuners, en met die koms van die sosiale media, is dit erger as ooit tevore.
Elke joernalis, veral diegene wat in die politieke wêreld bedrywig is, kry op die een of ander tyd van sy of haar loopbaan dreigemente van individue of organisasies wat ontevrede is met hul werk.
Die uwe is in die laat sewentiger- en tagtigerjare by verskeie geleenthede op politieke vergaderings van regse partye gedreig, gevloek en beledig, en as dit nie was dat mense soos Eugene Terre’Blanche en Jaap Marais hul ondersteuners in toom gehou het nie, sou fisiese aanranding ’n besliste moontlikheid gewees het. Hierdie partyleiers was uit die aard van die saak nie lief vir die SAUK nie, maar het ons joernaliste, nie net van die SAUK nie, beskerm omdat hulle besef het geweld, skeltaal en fisiese geweld benadeel die betrokke politieke party mateloos meer as die teiken van die argwaan.
Joernaliste was deur die jare oral in die wêreld die teikens van politici en hul ondersteuners, en met die koms van die sosiale media, is dit erger as ooit tevore. Hier in Suid-Afrika hoef ’n mens net na die kommentare op nuusgebeure, politieke standpunte of rubrieke deur joernaliste te kyk om te besef daar is individue met ’n diepgewortelde wrewel in joernaliste wat iets sou skryf of sê waarmee hulle nie saamstem nie.
Daar is ’n gewilde skelwoord wat dikwels gebruik word, feitlik uitsluitlik, en dis betreurenswaardig, deur mense met politieke sieninge wat binne die breë regse spektrum val. Naamlik die verwysing na ‘hoernaliste’. Die rede hiervoor is, word gesê, joernaliste werk vir die Hoofstroommedia wat volgens die ontevredenes in die hande van die linkse liberale kapitaliste is en dans na hul poppe.
In Amerika is die tendens erggevestig, want president Trump en sy ondersteuners skel gereeld op die werknemers van die groot TV-netwerke en ander media dat hulle ‘fake news’ is wanneer hulle nie van sekere berigte hou nie. Al is dit bewese waarhede. Die president self beledig joernaliste gereeld erg, veral vroue, wat hom doodgewone, noodsaaklike vrae, maar waarvan hy nie hou nie, vra.
Eienaardig genoeg, die enigste keer dat ek fisies deur iemand aangerand is, was hier in Umtentweni sowat 12 jaar gelede toe die Spar daar ingewy is na aanbouings. My destydse kollega Lencel en ek was daar om die verrigtinge te dek, en ’n groepie mense, onder wie die sangpaar Des en Dawn Lindberg, was besig om te gesels, toe ’n destydse inwoner van die Suidkus, vroeër ’n bekende in Johannesburg, en een van die sprekers tydens die openingseremonie, my sonder enige provokasie hoegenaamd, skielik, uit die bloute, aan die bors gryp, my klere verwring, en druk met krag op my nek toepas.
Ek was totaal uit die veld geslaan, veral toe hy my woedend rondpluk en toesnou ‘I am tired of you f….ing Nazi’s’ plus ’n paar ander verwante beledigings. Die Lindbergs, wat hom blykbaar goed geken het, was skoon verskrik en het hom gepaai, waarna ek my kon loswikkel. Hy is deur die egpaar weggeneem, en die uwe redelik geskok agtergelaat want ek het geen idee gehad wat die rede vir die man se optrede was nie. Ek is tot vandag toe spyt en verwyt myself dat ek hom nie gefoeter of minstens ’n klag van aanranding teen hom aanhangig gemaak het nie. Met al die getuies sou hy nie ’n kat se kans in die hof gehad het nie. Het sy naam ongelukkig vergeet.
Die ergste dreigement wat ek ervaar het, was egter in die vroeë negentigerjare toe ek twee keer in twee weke ’n sertifikaat ontvang het wat by die SAUK afgelewer is, en waarop ek ter dood veroordeel word. Aanvanklik ’n skok, maar wanneer ’n mens so-iets kry, en sien hoe amateuragtig dit gedoen is, is jy geneig om dit te ignoreer as die werk van voortvarende raasbekke. Wat die uwe gedoen het, totdat ek die aand, nadat ek die eerste een ontvang het, twee mans in ’n wit Toyota skuins oorkant my huis sien sit het.
Twee dae later was dieselfde motor en insittendes op presies dieselfde plek. Ek besluit toe hulle wil my teiken, of probeer my (as die SAUK se nuushoof) intimideer. Niks aan vroulief gesê nie, maar dit aan ons Uitvoerende Hoof, Wynand Harmse, gerapporteer. Hy het daarop aangedring dat ons dit by die polisie aanmeld, wat ons gedoen het.
’n Dag of twee daarna het ’n tweede afskrif my via ’n ander kanaal bereik. Teen daardie tyd was ek, om die minste te sê, redelik bekommerd, want sê nou net daar was iewers ’n regse groep, of enkeling, wat, soos die Wit Wolf van 1988, bereid was om dood te maak ongeag die gevolge? ’n Polisiegeneraal het met my gekommunikeer, en aangeraai om dit as ernstig te beskou, al was alle aanduidings daar dat dit bloot ’n propaganda-skrikmaakaksie was.
Ek moes nogtans geen onnodige risikos loop nie, en indien ek enigiets verdag opmerk, soos die Toyota met sy insittendes, moes ek onmiddellik ’n sekere nommer bel. Ek het die Toyota nie weer gesien nie. Vier weke later het die polisie laat weet hulle het die saak deeglik ondersoek, en kon geen bron van die dokument opspoor nie. Baie verlig, maar dit bly ’n traumatiese gevoel om te weet jy is ter dood veroordeel en dis dalk nie bloot intimidasie nie.
Ewenwel, weens joernaliste se werk sal hulle altyd teikens bly. In sommige konflikgebiede wêreldwyd boet talle van hulle wel met hul lewens.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
