Jesus maak die storms stil!
Hoe erg ons ook die storms in ons lewens ervaar, Jesus is altyd by ons, en Hy wil hê dat ons in Hom sal glo en op Hom sal vertrou!

Beleef u dalk tans enige storms in u lewe? Indien nie, kan daar dalk nog moontlike storms in u lewe kom, of was daar dalk alreeds op ‘n tyd storms in u lewe! Die dissipels vaar uit op die see met Jesus saam met hulle in die skuit. Hy lê egter en slaap en daar steek ‘n hewige storm op. Die dissipels word baie bang en maak Jesus wakker met die woorde: “Meester, gee u dan nie om dat ons vergaan nie?” Jesus bestraf die storm en die storm bedaar onmiddelik. Die dissipels is verwonderd oor Jesus die storm kon stilmaak en sê aan mekaar: “Wie is hy dat selfs die wind op sy bevel gaan lê en stilraak?” Markus 4:41). Jesus vra toe aan die dissipels hoekom hul so ongelowig is! Is dit nie ook maar soos wat ons optree in tye van die storms in ons lewe nie? Hier bewys Jesus weereens sy krag en majesteit. Sou die dissipels kon weet wat Jesus kon doen as daar nie ‘n storm was nie?
So is dit ook met die storms in ons lewens. Hoe sou ons kon weet van die krag en die uitkoms wat Jesus kan gee as daar geen storms in ons lewens was nie? Juis deur die uitkoms wat Jesus aan ons gee, leer Hy ons dat ons op Hom kan vertrou – dat hy in enige situasie vir ons die storm sal stilmaak. Ons moet egter op Hom vertrou! Hoe erg ons ook die storms in ons lewens ervaar, Jesus is altyd by ons, en Hy wil hê dat ons in Hom sal glo en op Hom sal vertrou!
By ‘n ander geleentheid, terwyl die dissipels in die skuit was, sien hul Jesus op die water na hul toe aankom. Eers was hul bang maar Jesus stel hul gerus. Petrus vra toe aan Jesus: “…. As dit U is, beveel my om op die water na U te kom (Mattheus 14:28)” Petrus klim toe van die skuit af en loop toe op die water (v.29). Met sy oë gerig op Jesus kon Petrus op die water loop, MAAR toe Petrus die sterk wind (die storm) om hom sien, het hy bang geword en toe het hy begin sink! So doen ons ook, ons kyk vas teen die storms in ons lewe en twyfel aan die alvermoë van God! Ons ken die verhaal verder: Jesus het dadelik sy hand na Petrus uitgesteek en die volgende woorde aan hom gevra: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?(v31)”. Ook ons kan op die water loop, maar slegs met ons oë gerig op Jesus! Ons moet ophou kyk na die storms om ons. Moenie kyk na jou omstandighede nie, hou jou oë gerig op Jesus. Vertrou op Hom en moenie twyfel nie!
Jesus maak nog steeds die storms stil !!



