Drie rugbyspanne van Hoërskool Dinamika het onlangs aan die Goue Leeus Rugby finaal deelgeneem.
Namies se o14, o15 en o16-spanne het taai wedstryde teen Hoërskool Randburg gespeel. Die o14-span het ‘n strawwe wedstryd teen hul teenstanders gehad, maar het ongelukkig tydens die tweede helfte punte afgestaan wat gelei het na ‘n eindtelling van 14-26 vir Randburg.

Dinamika en Randburg se o15-spanne het heen en weer punte aangeteken. Harde rugby was gespeel, maar die eindtelling het 12-13 vir Randburg vertoon.
Die Namies se hoop het gelê by die o16-span. Die wedstryd was ‘n harde stryd met beide spanne wat alles gee om hul Goue Leeu-drome te laat waar word. Met sekondes oor, was die telling op 21-20 en Randburg hoef slegs die bal uit te skop om koning te kraai.

Die Namies het egter gewys dat hulle tot die einde sal baklei, die bal onderskep en sweef oor die doellyn om 27-21 te wen.
Die o16-Namies-span word as Goue Leeus kampioene gekroon.
“Ons is baie trots op die spanne wat ons skool se naam hoog gehou het tydens dié seisoen. Baie geluk met julle prestasies,” het Johan Schutte, hoof van Hoërskool Dinamika gesê.



