Local newsLocal NewsNews

Suksesvolle besigheids-magnaat stel eerste boek bekend op die ouderdom van 66

Staan 'n kans om een van vyf boeke te wen.

Adam Kethro, die gevierde Suid-Afrikaanse logistieke kenner en besigheidsmagnaat se debuut-roman, Pleasures Of The Harbour, speel af aan die einde van die twintigste eeu in ’n sanksie-geteisterde Suid-Afrika.

Adam Askew moet ’n hele paar skelm besigheidsvennote, bedenklike transaksies en liefdesteleurstellings oorleef om uiteindelik sy doelwitte te bereik en te kan sê hy het dit gemaak.

Met dié hoogs vermaaklike en opwindende roman maak Kethro sy debuut as skrywer op die ouderdom van 66.

Hierdie gedramatiseerde biografie vertel die storie van ’n jong man se deursettingsvermoë om sy drome en doelwitte te bereik. Daar is baie onderduimse onderhandelinge en transaksies, soos wat die hoofkarakters die hooggetye van die see en agterstrate van die land moet trotseer, terwyl hy dit ook regkry om in dié proses ’n paar raadsaaldeure en slaapkamerdeure oop te maak.

Lesers word ingetrek in ’n wêreld van ambisie, gierigheid, sabotasie, omkopery, korrupsie en wraak in hierdie moet-lees-boek waarvan die titel geïnspireer is deur Phil Ochs se album.

Kethro het die boek, wat ’n mengsel van avontuur en aksie is, eers op die ouderdom van 61 met een vinger op sy skootrekenaar begin skryf.

“Ek het die eerste keer geweet ek gaan eendag ’n roman skryf toe my opstelle in standerd agt in ons skool se tydskrif gepubliseer is. Pleasures Of The Harbour strek oor ’n deurmekaar tydperk van sanksies en oplossings. Hopelik inspireer dit jong mense om te skep in die 21ste eeu.”

Sy raad aan ander entrepreneurs is eenvoudig: “Daar is duisende dinge wat in jou pad kan staan om ’n nuwe besigheid te begin. Wanneer jy jonk is sukkel jy maar met kredietwaardigheid, maar die lewe is baie minder gekompliseerd as jy jonk is.

“Wanneer jy eers ’n vrou, twee kinders en ’n kar het om te betaal, gaan dit baie moeiliker wees om ’n entrepreneur te word. Moenie te hard fokus op jou teikenmark nie en tonnelvisie kan tot jou jou voordeel ook wees.”

Van toeka tot nou

Adam Kethro is ’n gevierde en gerespekteerde Suid-Afrikaanse logistieke kenner, besigheidsman en skrywer.

Adam Kethro is ’n gevierde en gerespekteerde Suid-Afrikaanse logistieke kenner, besigheidsman en skrywer.

Hy is in 1956 in Eshowe, KwaZulu-Natal, gebore. Hier het hy laerskool aan St. Helena Primary voltooi, waarna hy in 1973 by Durban Boys High School matrikuleer het. Hy het egter besluit om sy matriekjaar in 1974 te herhaal deur Damelin College.

Na sy militêre diensplig, het Adam met behulp van ’n familiekennis ’n pos by ’n logistieke maatskappy losgeslaan.

Met geen formele naskoolse opleiding nie, het hy in 1980 sy eie vragmaatskappy, Bridge Shipping, begin.Onder Adam se leierskap het dit gegroei en uitgebrei tot een van die grootste vervoermaatskappye in Suider Afrika, met meer as 750 werknemers toe hy in 2005 uitgetree het as uitvoerende voorsitter. Op daardie tydstip het hy 45 miljoenêrs agtergelaat, waarvan baie steeds by die maatskappy werk.

Adam se leuse, “Ons is elkeen verantwoordelik vir ons eie lewenskwaliteit” is woorde waarvolgens hy sy hele lewe geleef het.

Deesdae is hy semi-afgetree, maar besit steeds vier diverse besighede, insluitend ’n oorbruggingsfinansierings- en rekenaarmaatskappy, ’n vragbergingsonderneming en ’n perde-opleidingsplaas, waarby hy aktief betrokke is.

Buiten vir sy besigheidsbelange wat hom aan die gang hou, probeer hierdie immergroen-entrepreneur om die helfte van sy tyd te spandeer om die wêreld te verken en verskeie stokperdjies te beoefen, soos om musiek, kuns, boeke en oorlogaandenkings te versamel.

Oor die afgelope paar jaar, het hy ook ’n passie wat hy as tiener gehad het – om te skryf – afgestof en herontdek.
Sy debuut-roman, Pleasures of the Harbour, vertel die storie van ’n jong man se dapper avontuur om sy lewensdoel te verwesenlik.

Die boek sal in September uitgegee word deur Tracey McDonald Publishers.’n Tweede roman word vir die nabye toekoms beplan.

Volgens Adam het die skryfproses hom geleer dat dit ’n kuns is om stories te vertel en sy raad aan aspirant-skrywers is eenvoudig – fokus eers op jou finansies.

Die onverskrokke entrepreneur, avonturier en skrywer woon tans saam met sy vrou in Kaapstad.

Sinopsis

Wen ‘n boek van Adam Kethro.

Adam Askew is ’n jong man wat haastig is om te kry wat hy wil hê en om finansieel onafhanklik te wees. Toegerus met baie moed, deursettingsvermoë en selfversekerdheid, begin hy ’n verskepingsmaatskappy met die doel om die wêreld, een vrag op ’n slag, te verower.

Wanneer hy moeg raak vir Durban, neem hy ’n waaghalsige risiko – die grootste van sy lewe – wat hom kan maak of breek.

Hy verruil die see vir Johannesburg se stadsliggies en voordat hy sy oë kan uitvee eet hy by die beste restaurante, drink hy die duurste vonkelwyn in Londen en maak hy baie vyande op pad boontoe.

Kompetisie tyd

Vyf gelukkige lesers kan elk ‘n kans staan om een Adam Kethro se boeke te wen. Om in aanmerking te kom vir die prys stuur ‘n epos met jou naam en van, kontakbesonderhede en die sleutelwoord “Avontuur” na elzaanp@caxton.co.za

Die kompetisie sluit 21 Oktober om 12:00.

Wenners moet hul boeke by die Alberton Record se kantoor kom afhaal. Indien boeke nie binne 10 dae na kennisgewing aan die wenner afgehaal word nie, gaan die boek aan die volgende persoon in lyn vir die kompetitisie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Southern Courier in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button