Dolf se skielike afsterwe laat ‘n groot leemte
Niemand kon 'n orrel tokkel soos Dolfie nie.
Familie en vriende vier nou pastoor Rudolph Marthinus Bronkhorst (65), beter bekend as Dolfie, se lewe nadat hy skielik op 15 April oorlede is.
Hy was in ‘n ongeluk betrokke op Swartkoppiesweg op 14 April en is in die vroeë oggendure van 15 April aan ‘n longbesering oorlede.
Die Alberton Record het met sy tweelingbroer, Willem en sy vrou Elize, gesels oor Dolfie se lewe.
‘n Skielike gebeurtenis
Dolfie was op pad van Alberton na Brackenhurst toe sy voertuig met ‘n groot vragmotor gebots het op Swartkoppiesweg naby die BP vulstasie.

“Van wat ons verstaan het, het nie Dolfie of die trokbestuurder mekaar gesien nie en wou albei van hulle in die linkerkantse baan ingegaan het toe die ongeluk gebeur het,” het Willem vertel.
Volgens hom het Dolfie nog na die ongeluk self na die vulstasie geloop en was by sy volle bewussyn. Hy is toe met geringe beserings per ambulans na Germiston Hospitaal geneem waar hy onder verdowing en suurstof geplaas was.
“Dokters het vermoed dat hy dalk ‘n kopbesering opgedoen het omdat sy nek en kop geswel was. Hy is toe later die middag na Vosloorus Hospitaal geneem vir ‘n gerekenariseerde tomografie-skandering (CT scan) wat skoon terug gekom het,” het Elize gesê.
Dolfie is toe weer teruggeneem na die intensiewe sorgeenheid by Germiston Hospitaal, maar hy het erg verswak. “Ons het Saterdagoggend om 00:56 ‘n oproep ontvang met die nuus dat Dolfie oorlede is,” het die egpaar vertel.
Die ongeluk word ondersoek, maar volgens Dolfie se lykskouing het hy ‘n longbesering opgedoen.
Dolfie se geskiedenis
Dolfie en Willem is op 19 November in 1957 gebore en hulle het saam met hul twee ouer broers in Dinwiddie grootgeword. Hy was in Laerskool Elandia en het by Hoërskool Marais Viljoen High gematrikuleer.

“Dolfie het van jongs af ‘n groot liefde vir musiek gehad en het al op skool orrel-begeleiding by die Germiston-Suid gemeente gedoen. Hy was al ‘n orrelis voor hy skool verlaat het,” het Willem gesê.
Na skool het hy by die Kannaries, die destydse lugmagkoor, aangesluit. Daarna het hy met sy pastorale teologie studies by die Universiteit van Stellenbosch begin. Hy was vir sewe jaar lank besig met sy studies en hy het ook tussendeur gewerk.
Nadat hy gelegitimeerd was, het hy vir ‘n ruk as predikant afgelos by ‘n gemeente in Knysna.
“Die bekende PW Botha was onder andere een van sy gemeentelede,” het Willem gesê.
Hy het toe ‘n pos by die Kenhardt Gemeente in die Noord-Kaap gekry en hy was vir 10 jaar deel van die gemeente.
“Die mense van Kenhardt was baie lief vir Dolfie en hy vir hulle. Hy het ‘n groot impak daar gemaak.”
In 2001 het hy teruggetrek Gauteng toe en as hulp-predikant by ‘n gemeente in Primrose in Germiston uitgehelp.
“Hy was toe orrelis vir meer as sewe jaar by die NG Kerk Wes voordat hy Gauteng weer verruil het vir Belville in die Wes-Kaap waar hy ook ‘n orrelis was,” het Willem vertel.
Dolfie het toe sy huis in Albertsdal gekoop en het vir ‘n ruk lank, voor hy op pensioen gegaan het, as orrelis by die NG Kerk Oos-gemeente uitgehelp.
‘n Liefdevolle man
“Almal het van Dolfie gehou. Hy was ‘n mense-mens met ‘n hart van goud. Hy was baie liefdevol en almal in sy lewe het geweet wat hulle vir hom beteken het,” het Elize gesê.

Volgens haar het hy altyd diep spore agtergelaat waar ookal hy was.
“Hy het ‘n groot passie vir musiek en sou soms op die langpad orrel op sy stuurwiel speel.”
Dolfie was ook baie sentimenteel en sy familie het baie vir hom beteken.
Hy het elke Sondag by Willem en Elise gaan eet en soms deur die week ook.
“Kyk daai man kon ‘n orrel speel en terselfde tyd mense begelei. Hy was selfs toegelaat om tydens ons dogter se troue in Londen op een van die kerke se orrels te speel.”
Dolfie het ook ‘n groot liefde vir kinders gehad. “Hy het net ‘n manier gehad met kinders. Ons kleinkinders het hom oupa oom Dolf genoem en was baie lief vir hom,” het die egpaar gesê.
“Hy was ‘n hoeksteen in die gemeenskappe waar hy gewoon het. Ons gaan hom vreeslik mis, maar ons het vrede in ons harte want Dolfie het sy lewe voluit gelewe en hy is nou in die hemel saam sy ouers en twee ouer broers.”
WATCH: Swartkoppies Road bridge temporarily closed due to an accident



