CrimeNews

Pensionaris vermoor vir bakkie

Dirk Koekemoer (79) wat verlede Maandagaand vermoor is tydens 'n gewapende kaping, se moordernaars is nog op vrye voet sê Kaptein Johannes Ramphora, woordvoerder van die Springs polisie.

“Die Koekemoer egpaar, het, nadat hulle vroegaand inkopies gaan doen het in Geduld, nog ‘n stop gemaak en het net na 11nm besluit om huistoe te gaan.

“Dit is toe hulle by hul Nissan 1400 bakkie kom, dat hulle verras is deur vier kapers,” sê Kapt Ramphora.

Hy voeg by dat Koekemoer twee steekwonde tussen sy blaaie, een in die bors en een in die maag, opgedoen het en dat hy beswyk het aan sy wonde.

Koekemoer se vrou Rita (75) het probeer vlug, maar twee rowers het haar ingehaal en teruggesleep na die toneel.

Kapt Ramphora voeg by dat sy aanhoudend gevra het die rowers hulle nie moet seermaak nie, maar die kapers was geweldadig en het haar aanhoudend aangerand.

Die twee slagoffers is agter op die bakkie gegooi en die kapers het hulle toegemaak met die bakkie se seiltjie en weggejaag.

Koekemoer se liggaam is in die vroeë oggendure van 2 Julie gevind in ‘n veld naby die N12-hoofweg se Etwatwa afrit waar die kapers hom en Rita afgegooi het.

Rita is eers vroeg Dinsdagoggend gevind en was erg getraumatiseer.

“Die ambulans het haar hierheen gebring vir obserwasie en sy is dieselfde dag ontslaan,” sê Hendrik Buda, woordvoerder vanVerre Oosrandse Hospitaal.

Koekemoer se seun, Dirk senior, sê hy gaan sy pa vreeslik mis en dat dit so wrede manier is om aan jou einde te kom.

“My pa het dit glad nie verdien nie, hy was ‘n liefdevolle, saggeaarde mens, wat nooit ‘n slegte woord van iemand sou uiter nie,” sê Dirk senior.

“Vir my was my oupa ‘n vriend en ‘n wonderlike mens wat nie verdien het om vermoor te word nie,” sê Dirk junior.

Rita is dit eens dat haar man nie ‘n vlieg sou seermaak nie en dink ook dit is wreed wat hom oorgekom het.

Chantel Rheeder, Koekemoer se kleindogter, wens hulle kry die mense wat haar oupa vermoor en ouma so seergemaak het.

“Ek was elke dag by hulle en ek gaan die koffie mis wat hy vir my gemaak het,” sê Rheeder.

Sy voeg by dat almal se harte rou is en dat hulle hom verskriklik gaan mis.

Kapt Ramphora sê hulle volg alle moontlike leidrade op en hoop om nog meer inligting te bekom wat sal lei tot die inhegtenisneming van die skurke.

Enige iemand met inligting aangaande die saak kan die Springs polisie kontak by 011 365 5700/19/20 of Kapt Ramphora by 079 694 6936.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button