Witwarm winter vermaak
Vir drie dae lank gaan van Suid Afrika se top Afrikaanse kunstenaars by Die Winter Fees by @ The Park, Emperors Palace van hul heel gewildste treffers sing.

Die fees begin op 2 Augustus met ‘n rockkonsert waar Die Heuwels Fantasties, Die Tuindwergies, Kinky Robot, Van Coke Kartel en 2nd Life gaan optree.
Op 3 Augustus sal kunstenaars soos Kurt Darren, Adam, Manie Jackson, Elizma Theron, David Fourie, Rinel Day, Stephen Hayes, JJ Stephens, Mwah! en Dewald Wasserfall in aksie wees.
Om die fees af te sluit om 4 Augustus sal daar ‘n gepaste gospelkonsert wees met die bekende prediker Andries Enslin en Joe Niemand, asook Willie en Natasha Joubert.
Vanaf 11vm op 3 Augustus, is daar ook ‘n potjiekoskompetisie met glanspersoonlikhede soos Martin Bester, die gewilde radio-omroeper van Jacaranda 94.2 en lid van die rockgroep Kinky Robot, Dewald Wasserfall en Rinel Day.
Buiten die musiek sal daar ook springkastele, kosstalletjies en ‘n biertuin wees waar die hele gesin ‘n dag van pret en plesier kan geniet.
Kaartjies kos R120 per persoon en kinders o/12 R60. Kaartjies sal by die hek beskikbaar wees of kan vooraf deur Computicket bespreek word by 0861 915 8000 of www.computicket.com.