Local newsNews

Eerstekerk in Springs sluit sy deure

Die oudste kerk in Springs, die NG Moedergemeente oorkant Olympia Park Skool, sluit sy deure aan die einde van die maand.

“Die gemeente voer al sedert 1990 ‘n oorlewingstryd en dit het net onmoontlik geword om aan te gaan,” se Dominie Lukas Steenkamp, deeltydse predikant van die gemeente.

Die eesrte NG Kerk in Springs het begin in 1899, toe kerk gehou is in ‘n sinkgeboutjie nadat Geduld as buitewyk van Brakpan ontstaan het. Die sinkgebou was opgerig waar Olympia Park Skool tans is en in 1920 het dit as ‘n selfstandige gemeente ontstaan.

“Die kerk was daardie jare bekend as die Geduld Kerk,” vertel Freddie Viljoen, oudste lidmaat van die kerk.

Op 13 November, 1928, is die kerksaal oorkant Olympia Park Skool ingewy deur Ds J Louw en is dit gebruik as kerkgebou tot en met 1939.

As gevolg van die uitbreiding van die myndorp is daar besluit om ‘n kerk te bou en in 1939 is die kerk ingewy.

In 1940 het Springs Oosgemeente afgestig van die Moedergemeente en in 1942 Springs Noord.

“In die laat 70s het die gemeente uitgebrei na 1 200 lidmate en twee predikante was nodig,” vertel Ds Lukas.

Gedurende die tyd is daar ‘n kerksaal in Wright Park gebou en die Sondagskool is daar gehou.

Die kerk het ‘n pastorie in Dal Fouché gekoop en dié dominee het die Wright Park Sondagskool gedien.

“As gevolg van finansiële druk moes een van die twee predikante by die kerk losgemaak word in 1995,” se Ds Lukas.

Nadat die eerste predikant losgemaak is, moes die tweede ook gaan en is daar ‘n deeltydse predikant gekry.

Op 9 Mei, 1999, het Ds Lukas sy eerste preek gelewer.

Ds Lukas voeg by dat nadat die grense oopgegaan het in 2000, kon die lidmate aanbid waar hulle wil en sodoende het die Moedergemeente se getal lidmate drasties begin daal.

“Noodmaatreëls het later genoodsaak dat die kerksaal in Wright Park verkoop moes word,” sê hy.

Die tweede noodmaatreël wat ingetree het was die verkoop van die pastorie in Dal Fouché en daardie fondse is vir ‘n tyd lank gebruik om gate toe te stop.

Die ander pastorie is omskep in ‘n gemeente sentrum wat ook later verkoop moes word.

Volgens Ds Lukas is dit die laaste inkomste wat die gemeente tans aan die gang gehou het en dat daar ‘n besluit geneem moes word en hulle het besluit om die kerk toe te maak.

Das Terblanche, wat die kerk se saakgelastigde was vir die laaste ses jaar, sê dat hulle soos ‘n familie was en sy gaan die lag en gesels baie mis.

“Ons het saam hard gewerk en dit was ongelooflik, daar was ‘n gebondenheid,” sê sy.

Volgens Willie Bezuidenhout, wat vir 12 jaar die koster van die Moedergemeente was, is hulle ‘n vriendelike spulletjie en hulle gaan mekaar mis.

Freddie sê dit is simbolies dat die moeder terugkeer na haar dogter, want op 28 Julie word die Moedergemeente ingelyf by Springs Noord.

Ds Lukas se daar gaan ‘n kort diens gehou word waarna Ds Liesl Nichol en van haar kerkraadslede die deur offisieël vir die laaste keer gaan sluit, waarna almal na Springs Noord Gemeente oorbeweeg waar hulle amptelik welkom geheet sal word met ‘n diens en nagmaal wat bedien sal word.

Ds Lukas en sy vrou Marie Steenkamp is die laaste leraarspaar van Springs NG Moedergemeente.
Ds Lukas en sy vrou Marie Steenkamp is die laaste leraarspaar van Springs NG Moedergemeente.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button