Local newsNews

Dinamiese Anita

Anita Greeff, dryfveer agter die Vyfdelaan Kersmark en die Springs Fair, is vandag nog net so dinamies soos altyd as administratiewe bestuurder by die Eastern Gauteng Chamber of Commerce and Industry.

Op 20-jarige ouderdom het Anita as tikster begin werk, nadat sy haar diploma in handel aan Pretoria Technikon verwerf het.

Die tiksterspoel waarvan sy deel was het haar gou verveel en na ander tiksters poste wat sy beklee het, het sy haar vlerke gespan om hoër te mik.

Anita het gou die suksesleer begin klim en het vier jaar as persoonlike assistant vir die president van die Raad op Atoomkrag gewerk.

Sy beskryf dit as die beste tyd van haar lewe.

“Ek en my man Paul is intussen getroud waarna ek by nog ‘n paar ander plekke gewerk het. Maar ná my dogter Lezaan se geboorte het ek besluit om vir vier jaar tuis te bly,” sê Anita.

Met haar terugkeer na die besigheidswêreld, het sy in 1992 by die Springs Chamber of Commerce and Industry (nou Eastern Gauteng) begin werk en sy is nog steeds hier werksaam.

Sy was lank in sekretariële posisies, maar is dankbaar dat sy nie meer daardie pos beklee nie en as administratiewe bestuurder werk.

“Iemand wat ‘n groot indruk op my gemaak het was oorlede Dick Gosse, eertydse president van die Chamber. Hy het my alles geleer wat ek vandag weet, hy was die beste leermeester,” sê Anita.

Vir jare is Anita ook die persoon agter die skerms met die reël van die President Meriete Toekenningsbanket wat jaarliks gehou word en waar daar erkenning gegee word aan besighede vir wat hulle vir sosiale opheffing in die gemeenskap doen.

“Dit is ‘n baie grand affêre, maar die voorafgaande beplanning is alles die moeite werd,” sê Anita.

Sy vertel van die Vyfdelaan Kersmark wat ‘n reuse sukses en ook baie gewild was, want dit het elke jaar mense van heinde en verre gebring om hul kuns en handwerk te kom uitstal en verkoop.

“Ons het Vyfdelaan vir vyf dae afgekordon, vanaf Vierdestraat tot Sewendestraat en Marquee-tente het die straat vol gestaan.

“Dan was daar natuurlik die Springs Trade Fair wat vir die eerste drie jaar elke jaar gehou is, maar daarna net elke tweede jaar totdat dit doodgeloop het,” sê sy.

Sy voeg by dat dit baie harde werk was en dat sy altyd eerste daar aangekom het en weer laaste huistoe gegaan het.

“Dit het doodgeloop as gevolg van die feit dat die grond by die Gemeenskapsaal nie meer tot ons beskikking was nie,” sê sy.

Maar iets wat Anita altyd sal bybly is dat sy van al die loop by die fair, shin splints gekry het. Dan het sy en Jorrie, ‘n dierbare brandweerman, in ‘n kamertjie verdwyn waar hy haar bene gevryf en verbind het.

Sy vertel dat Steve Hofmeyr tydens die laaste Trade Fair opgetree het, maar omdat hy olik was, het hy direk na sy optrede vertrek, maar sy aanhangers het dit nie geweet nie en almal het in die voorportaal van die Burgersentrum gewag dat hy hul CDs kan kom teken.

“Ek het natuurlik vir my vriend gesê ons moet die klomp aanhangers inlig, maar oppad kry ek ‘n briljante idee waarvan die vriend nie bewus was nie,” glimlag Anita ondeund.

Sy het vir almal vertel dat Steve gevra het dat haar vriend namens hom die CDs moes teken.

Anita se vriend het net geglimlag toe almal op hom afstorm, maar was geskok toe een dame haar bloes oopruk en vra hy moet sy handtekening op haar bors maak.

“Ek het so gelag vir die verbasing op sy gesig, maar nog was het einde niet, want daar was erger plekke waar hy moes teken, wat hy manhaftig hanteer het,” spot sy.

Dit is nou nogsteeds dieselfde ywerige en gedetermineerde Anita wat daarvan hou om met mense te werk en interaksie te hê met besighede.

Fred Jones, bestuurder van die Business Linkage Centre wat die tweede algemene bestuurder van die Chamber was, sê dat in die 17 jaar wat hy saam met haar werk, het hy een ding gevind wat haar kop bo skouers laat uitstaan bo ander – haar doelgerigdheid.

“Wanneer sy ‘n projek aanpak hetsy dit die algemene jaarvergadering van die Chamber is, of ‘n werkswinkel, sy fokus daarop en voltooi elke taak met presiesie.

“Ek stel haar samewerking baie hoog op prys, want sy is altyd gewillig om ‘n helpende hand te verleen. Sy bly ‘n ster in die Chamber,” sê hy.

Met Vrouemaand om die draai is Anita gedetermineerd, soos gewoonlik, om elke geleentheid te gebruik om haar plek vol te staan.

“Ek beskou Vrouedag as ‘n baie belangrike dag, aangesien dit aan die vroue erkenning gee vir die belangrike rol wat hulle speel, nie net in die samelewing nie, maar ook in die gesinslewe,” sê Anita.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button