NewsSchools

Boeliegedrag – is jou kind ‘n boelie?

In die praktyk is dit baie makliker om boeliegedrag met 'n ouer te hanteer wanneer sy/haar kind deur 'n ander geboelie word.

Die situasie verander egter drasties indien die betrokke ouer se kind as die boelie/skuldige uitgewys word. Die onweerlegbare feit bly egter dat ons steeds met ‘n ouer(s) te make het wat geweldig omgee vir hul kind en dat liefde wedersyds die saambindende faktor bly, ongeag die gedrag en optrede wat onaanvaarbaar is.

Van tyd tot tyd vind ons dat ‘n betrokke leerder skielik begin om ander te boelie. Soms is die oorsaak dat die betrokke leerling self deur ander geboelie is en dit nie meer langer kan verduur nie.

Wees egter baie versigtig om nie ‘n leerling/persoon te begin beskuldig van boeliegedrag alvorens jy nie baie seker is hoekom die optrede begin is nie.

Watter omstandighede of faktore het daartoe aanleiding gegee?

Moontlike redes wat daartoe mag bydra dat ‘n kind begin om ander te boelie is:

  • Jaloers op ‘n suster, broer of ander kinders vanweë hul prestasie(s)/aandag wat hulle geniet.
  • Geweldige spanning as gevolg van skoolwerk wat agter is of moontlik ‘n eksamen wat volg.
  • Bekommernis oor ‘n probleem tuis wat nie aangespreek word en/of nie opgelos is nie soos byvoorbeeld ouers wat aanhoudend baklei, egskeiding waar hulle die lydende party is, skuldig voel en hulself blameer as die oorsaak daarvan, droefheid/hartseer, finansiële probleme van hul ouers, die dood van ‘n troeteldier aan wie hulle baie geheg was, ensovoorts.
  • Rusie met ‘n maat en dan hul woede op iemand anders projekteer.
  • Uiters verveeld is en nie konstruktief besig bly nie.
  • Uiterste frustrasie as gevolg van leer- en taalprobleme. Hulle sukkel met konsentrasie en hul angsvlakke styg telkemale wanneer hulle in ‘n werksopdrag misluk en dit nie kan voltooi nie.
  • Wanneer hulle ‘n ‘slegte’ dag beleef en dit vir hule voel alles gaan verkeerd.

Sommige kinders het ‘n historisiteit van boeliegedrag. Hulle is byna by alle insidente betrokke en die gedragsprofiel volg hulle van skool tot skool.

In die praktyk vind ons dat hulle van hoofstroom onderwys uitgesluit word en dat gespesialiseerde onderwys hulp moet verleen. Die korrekte plasing is van deurslaggewende belang om die nodige hulp en ondersteuning te verleen.

Hierdie groepering van leerders openbaar gemeenskaplike kenmerke soos byvoorbeeld:

  • Openbaar konstante aggressiewe gedrag.
  • Vind dit uiters moeilik om hulself te beheer.
  • Het ‘n sterk positiewe gesindheid teenoor geweld en magsbehepteid.
  • Voel onveilig en tree ontwrigtend op tot nadeel van hulself en ander om hulle.
  • Blameer hul slagoffers vir boeliegedrag. Hulle projekteer en plaas die blaam op ander.
  • Hulle openbaar geen empatie teenoor ander nie en is baie egosentries ingestel Dit gaan net oor hulself en niemand anders nie.
  • Soos reeds genoem, word hulle self deur familielede of vriende geboelie en ervaar hulle dat hulle die swartskape is wat vir alles blameer word, al is hulle nie skuldig of self betrokke nie (huislike geweldsmilieu/omgewing).
  • Verkeer onder druk om te presteer ten spyte van die feit dat hulle egter misluk.
  • Het uiters swak sosiale vaardighede, voel verskillend, dom en onbevoegd.

In kroniese boelies vind ons boelies wat deur hul toedoen, te veel hul sin en aandag kry, die ouers oormatig toegee en bederf tot die uiterste van amper ‘n ‘aanbidding’ deur die ouers. Hulle verwag dan dat almal om hulle dieselfde benadering ook moet hê.

Die vraag onstaan nou onwillekeurig wat kan gedoen word om die probleem aan te spreek en die slagoffer te help? Dit is van kardinale belang dat die ouerhuis en die skool hande vat en gesamentlik hulp verleen. In die uiterste gevalle kan die professionele hulp van ‘n siel- kundige en/of kinderpsigiater ook ‘n reuse rol speel ten einde die probleem aan te spreek.

Basies kan die volgende benadering gevolg word:

  • Deel met jou gevoelens. Negatiewe energie dra by tot gevoelens van magteloosheid en depressie. Kinders moet aangemoedig wod om uiting te gee aan hul negatiewe, pynlike gevoelens ten einde voldoende energie te hê om die geboelie te hanteer en te verwerk. Dit beteken dat hulle leer om hul gevoelens te identifiseer, kwantifiseer en daaraan uiting te gee. Dit vorm dan ‘n raamwerk waarbinne hulle dan ‘n gevoel van mag oor hule lewens verkry en voortaan dan beslis en doelgerig handel.
  • Verstaan waarom word jy geboelie. Kinders, hul ouers en onderwysers moet die oorsake en redes verstaan waarom kinders geboelie word. Dit voorkom onnodige verspil van tyd, mors van energie, blaam skuif, verdediging, woede en gevoelens van hopeloosheid. Soos reeds gemeld sluit dit faktore in soos lae selfbeeld, persoonlike verskille, skaamheid, tekort aan standpuntinname en om soms net op die verkeede plek op die verkeerde tyd te wees. Die gesinsagtergrond, die skool en heersende kulturele verskille beïnvloed ook die risiko om ‘n boelie ten prooi te val.
  • Bou aan jou selfbeeld. Kinders moet geleer word om hul selfbeeld en die skade van die geboeilie weer te herstel. Hierdie proses bemagtig die kinders met moed /durf om nuwe vaardighede aan te leer en om die nodige tegnieke te bemeester wat dan as buffer teen die boelie dien
  • Leer om met selfvertroue to kommunikeer. Kinders wat geboelie word, moet leer om hul kommunikasievaardighede te verbeter. Hulle durf nie toelaat dat hulle swak of aggressief voorkom nie – boelies hou daarvan. Kinders kan bloot deur hul taaluitdrukking en liggaamshouding hul wyse van kommunikasie verbeter en meer ferm en beslis optree. Kinders wat effektief kommunikeer vind dit ook baie makliker om by hul porrtuurgoep in te skakel.
  • Ontwikkel jou eie ‘powerpack’. Kinders moet gehelp en toegerus word om korrek op te tree wanneer hulle geterg, aangeval of uitgesluit word. Deur ‘n eiesoortig, unieke strategiepakket te ontwikkel, kan dit interessant en selfs vermaaklik wees om die gepaardgaande reaksie van die boelie te sien wanneer sy magsbehepteid onsuksesvol is Die kinders leer dan ook om verskillende strategieë toe te pas afhangend daarvan of die geboelie verbaal, antisosiaal of fisies is. Dit gee dus ‘n alternatiewe perspektief op die situasie.
  • Ontwkkel ‘n ondersteuningsnetwerk. Elke kind het ‘n behoefte aan ‘n sosiale ondersteuningsnetwerk in die portuurgroep. Kinders wat deel is van ‘n ondersteunende groep, is minder geneig om deur boelies geviktimiseer te word. Samewerking tussen die ouer, skool, onderwysers en mede leerlinge voorsien optimum ondersteuning.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button