Paartjie tot groot hulp
Man en vrou is 'n aanwins vir die gemeenskap sowel as vir Selpark GPF.
Dr Tharina Günther-Bothma en Morné Bothma is ‘n paartjie om mee rekening te hou wanneer dit kom by naaste liefde.
Geen noodgeval is vir hulle moeite nie en hulle help graag waar hulle kan.
“Morné is vyf jaar gelede amper gekaap, en ons het net daarna besluit om by Selpark Gemeenskaps Polisie Forum (GPF) aan te sluit. Ons is glad nie spyt oor ons keuse nie,” sê Dr Tharina.
Albei is slaggereed indien noodgevalle opduik, soos toe daar onlangs ‘n dame flou geval het in ‘n winkel.
“Wanneer ons iemand help, stabiliseer ons eers die persoon totdat die ambulans opdaag,” sê Morné.
Alhoewel Dr Tharina ‘n mediese dokter is en Morné ‘n chemiese tegnikus is wat bloedmonsters ontleed, geniet hulle die gemeenskap en probeer help waar hulle kan.
“My vrou neem die bloed monsters by pasiënte en ek ontleed dit om vas te stel wat die problem is,” sê Morné.
Dr Tharina is dit eens dat hulle die gemeenskap geniet, maar vertel dat dit nie net hulle is wat help nie, maar almal van die Selpark GPF sit handjie by en dit maak dit ‘n gemeenskapspoging.
Die voorsitter van Selpark GPF, Ben Smith, sê dit is ‘n seën om hierdie twee mense aan boord te hê.
“By die GPF kyk vriende uit vir vriende en ons almal probeer ‘n diens lewer aan die gemeenskap,” sê Ben.
Ben voeg by dat die mediese paartjie baie beskeie is en nie erkenning verwag nie omdat hulle voel dit is naasteliefde en glad nie hul plig nie.
Alhoewel Dr Tharina en Morné baie beskeie is, is hulle voorwaar staatmakers vir die gemeenskap.



