Daar is bevind dat die voorkoms van boeliery in sommige skole vyf maal hoër is as in ander skole.
Die vraag onstaan wat die karaktereienskappe van sodanige skool sou wees waar daar ‘n hoë of laer voorkoms van boeliery is?
In elke skool sal daar gevalle van boeliery voorkom, al is die skool ook hoe ondersteunend en kindgerig, maar die voorkoms kan egter drasties afneem indien die skool en skoolgemeenskap ‘n duidelike standpunt daaromtrent inneem.
In die praktyk word gevind dat die meeste leerkragte dit eens is dat slagoffers ondersteun en dat enige vorm van boelie bekamp moet word.
Daar bestaan egter verskeie menings oor wie primêr verantwoordelikheid moet aanvaar om daarmee te deel en tot watter mate daar van die slagoffer verwag kan word om hulself te beskerm.
In baie gevalle is leerkragte onbetrokke en ervaar selfs ‘n vrees om op te tree en sal dit eerder wil vermy.
Alhoewel die ondersoek met elke geval tydrowend kan wees om substansie te bepaal, die skuldige uit te wys en dienooreenkomstig binne bestaande wetgewing en regulasies te handel, mag dit nie geïgnoreer word nie. Elke skool en sy gemeenskap het ‘n verpligting om die euwel aan te spreek en optimaal te bekamp.
Menings wat beslis nie help nie is byvoorbeeld:
- Dat boelies in so ‘n mate self afgekraak moet word dat hulle nie weer ander sal boelie nie;
- Wys die slagoffers hoe om hulle te verdedig en boelies hul eie medisyne terug te gee;
- Wees vriendelik met boelies, hef hul selfbeeld op dan sal hulle ophou om ander verder te boelie.
Bogenoemde is baie simplistiese sieninge wat die kompleksiteit van boelie as ‘‘n onaanvaarbare vorm van sosiale gedrag met verreikende gevolge misken en ignoreer.
Dit is van kardinale belang dat elke skool en skoolgemeenskap erken dat boeliery beduidend toeneem; dat portuurviktimisasie ernstige gevolge vir beide die slagoffer en die boelie inhou én dat optimisme met betrekking tot die uitkoms van nuwe innoverende beleide en spesifieke praktyke nodig is met die uitsluitlike oogmerk om die probleem substansieel te bekamp.
‘n Bykomende aspek om in ag te neem is die optrede van leerkragte ten opsigte van mag.
Onderwysers het buitengewone gesag oor kinders wat in die algemeen toepaslik aangewend word ter beskerming van elke kind onder sy/haar sorg. Wanneer hierdie gesag egter misbruik word, kan dit uiters pynlik vir die kind wees.
Ander kinders is ook geneig om die onderwyser se slagoffer verder te boelie en te viktimiseer.
Moedig die leerlinge aan om te praat en te vertel. Onderwysers en ander personeel moet die verantwoordelikheid aanvaar dat leerders die vrymoedigheid het om vrylik te vertel oor die probleme en dat slagoffers nie blootgestel word aan verdere insidente nie. Sonder empatiese kommer en omgee vir die slagoffer, het die boelie geen rede om sy nadelige optrede te staak nie. Dit is uiters belangrik dat elke onderwyser regtig sal luister en optree – hiervoor moet effektiewe luistervaardighede aangeleer en toegepas word.
Ontwikkel ‘n kollektiewe plan van aksie tussen al die personeel ten einde ‘n geboelie te bekamp. Verhoogde toename in bewustheid behoort te lei tot verhoogde toename in toesig in die klas, speelgrond, ander risiko lokale en op die bus.
Deur ‘n wakende oog te hou kan die boelie deur onderwysers gekonfronteer word en sodoende die slagoffer die verleentheid spaar om die gebeure herhaaldelik oor te vertel.
Personeel se betrokkenheid en waaksaamheid blyk die beste proaktief, enkele aspek te wees om boeliery en insidente daarvan te verminder. Swak toesig en betrokkenheid van personeel het die teenoorgestelde tot gevolg.
Onvoldoende toesig gekombineer met oorbevolke toestande op die terrein en ongewone fisieke kontak onderling (stamp, stoot en gryp) is ‘n resep vir antisosiale gedragsmanifestasies.
Kameras om die gebeure elektronies vas te vang is van groot hulp en toesigkragte behoort hul waarnemings met mekaar te deel.
Kompetisie of samewerking?
‘n Skoolatmosfeer van samewerking is meer van waarde as oordrewe kompetering onderling. ‘n Sisteem van ‘kompeteer met jouself’ en die ‘erkenning daarvan’ beperk jaloesie teenoor mekaar en gevolglik boeliegedrag.
Ongesonde kompetiese kan voorkom word deur nie akademiese briljantheid te oordryf nie, weg te doen met die ‘top 10 sindroom’ (Tien talente – maar wat van die vyf talente waarmee daar en aan suksesvol gewoeker word) asook die neiging om punte hardop uit te lees vir almal om te hoor.
Onderwysmetodes wat bevorderlik is vir effektiewe wisselwerking tussen die leerlinge en interessante onderwerpe/projekte leen hulself daartoe dat elke groep ingestel is op probleemoplossing. Die samewerking as groep voorkom individuele, kompeterende gedrag.
Die klaskameropset kan ook ‘n groot rol speel in boeliegedrag.
Die boelie(s) mag nie toegelaat word om agter in die klas te sit waar hul gedrag en optrede minder opvallend en/of verskuil is nie. Deeglike voorbereiding, interessante onderwerpe en onderrigmateriaal moet so aangewend word dat geen leerling, veral nie boelies nie, verveeld raak nie.
Klasaktiwiteite moet informatief/inligtinggewend wees, die boelie leer om met die slagoffer te identifiseer en om die impak van geweld op die slagoffer te besef.
Videos, rollespel, die skryf van opstelle en verbale (mondelinge) besprekings oor boeliegedrag kan met groot welslae aangewend word. Die uitgangspunt ten opsigte van bogenoemde is dat geen name genoem mag word nie.
Die onderwyser kan die volgende raamwerk as vertrekpunt gebruik:
- Wat is boeliegedrag?
- Waar gebeur dit en waarom?
- Wat gebeur met persone wat geboelie word?
- Wat gebeur met boelies?
(Hierdie raamwerk kan ook met groot vrug deur ouers gebruik word).
Leer kinders om die volgende te beskryf:
- ‘n Tydstip wanneer iemand se woorde of gedrag hulle seermaak.
- ‘n Tydstip wanneer hulle iets sê of doen om iemand anders seer te maak.
- ‘n Tydstip toe hulle boeliegedrag gesien of gehoor het en niks daaromtrent gedoen het nie.
- ‘n Tydstip toe hulle boeliegedrag gehoor of gesien, dit probeer stop of hulp gaan soek het.
Dit is van kardinale belang om kinders te onderrig in aanvaarde sosiale vaardighede soos byvoorbeeld om ‘n situasie korrek op te som, ervaar (veral die bedoelinge van ander), om dienooreenkomstig ‘n korrekte plan te beraam en dit uit te voer, probleemoplossend te redeneer en deurentyd te fokus op konflikoplossing.
Dit is en bly ‘n baie moeilik, tydrowende proses maar as opvoeders, ouers en gemeenskapsleiers mag ons nie ons Godgegewe opdrag en verantwoordelikheid versuim nie.
Wynandus Bezuidenhout
Hoof by Protea Skool



