Die vrou agter die voedingskema
San van Wyk, 'n beskeie, maar tog fenominale vrou, is aan die stuur van sake by die Jesus Outreach Feeding Scheme.
Vir haar bydrae tot die gemeenskap het San in 2009 die Paul Harris toekenning van die Springs Park Rotary Club ontvang.
Dit is Rotary se manier om mense soos San te vereer wat ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap gemaak het.
Volgens Pastoor Frik Weideman, van AGS-Jesus is Lig-kerk in Eastvale is sy die spreekwoordelike sout van die aarde en lig van die wêreld.
San is aan stuur van sake by dié voedingskema wat in 2003 deur hierdie gemeente begin is.
Hierdie projek is haar passie omdat sy nooit skroom om naasteliefde te betoon nie.
“Om ‘n diens te lewer aan my naaste is vir my die lekkerste en grootste beloning,” sê San.
Hierdie plaasmeisie van die Waterberg-distrik in Limpopo, se passie om te dien het lank voor die voedingskema se ontstaan, begin.
Sy vertel sy was destyds deel van die AGS-Lofoord gemeente waar dr Sam Fourie leraar was.
“My oorlede man, Hennie en ek het minderbevoorregte kinders by Laerskool Pam Brink van kos voorsien deur elke Maandag, Woensdag en Vrydag vir hulle ‘n gekookte ete voor te sit,” sê San.
So was sy ook betrokke by die fondsinsamelingsprojek van dié gemeente maar het gou verveeld geraak.
Sy het gou aan dr Sam gesê sy het nou genoeg fondse ingesamel, sy wil nou vir die Here begin werk.
Volgens San het dr Sam haar gevra om geduldig te wees, aangesien hy van nog iemand weet wat hierdie passie deel.
Kort voor lank het San vir Aletta Horn ontmoet en het sy, Aletta en dr Sam in 2001, ‘n sopkombuis in Geduld begin.
“Ons drie het die sopkombuis vir drie jaar aan die gang gehou met Martin Botes wat die kos geskenk het,” sê sy.
Die sopkombuis het in 2003 ontbind, nadat San saam met past Ben Loubser en sy vrou Francis oorgeskuif na die Eastvale gemeente.
Sy was nog nie een dag spyt oor hierdie besluit nie, want dit is waar Jesus Outreach Feeding Scheme begin het.
Na haar man Hennie se skielike dood in 2011 was sy na 46 jaar se getroude lewe, skielik alleen.
Maar niks kan hierdie vrou onderkry nie, en met krag van Bo het sy besluit om nie op ‘n hopie te sit en treur nie, maar om haarself besig te hou met naasteliefde.
“Wanneer mens trou word jy een en wanneer jou metgesel van jou af weggeneem word, voel dit of die mat onder jou uitgeruk word,” sê sy.
Maar sy het vining besef dat sy nie van mense afhanklik is nie, maar van God en alhoewel sy vir Hennie vreeslik mis, leef sy haar passie met volle oorgawe uit.
“As dit nie vir die voedingskema was nie, sou dinge dalk anders gewees het,” sê San.
Die voedingskema voorsien Skoonplaas, duskant Eastvale, se inwoners gereeld van brood, mieliemeel en kospakkies.
Sy vertel trots dat hierdie projek haar baie na aan die hart lê.
Gedurende wintertyd word dié inwoners ook voorsien van warm klere en komberse, afhangende van die behoeftes.
Nog ‘n projek op San se lysie van naasteliefde is Laerskool Môrester, waar ‘n hele groepie leerlinge elke dag kos by die skool kry.
Alhoewel ‘n groot bydrae teenoor die voedingskema van hierdie skool van die Departement van Onderwys afkomstig is, dra Jesus Outreach Feeding Scheme ook by.
San het ook verlede Dinsdag aan hierdie kinders tekkies oorhandig wat ‘n skenking van Springs Park Rotary Club was.
Kinders en ouer mense lê haar baie na aan die hart.
Daarom is Awendgloed Ouetehuis ook deel van die skema se liefdadigheid waar daar elke maand kruideniersware aan die inwoners uitgedeel word.
San vertel as hulle babadoeke en nie bederfbare kos het dan word dit by iThemba Hope Crisis Pregnancy Centre afgelaai.
Wat hierdie Eastvale inwoner die meeste pla is wanneer sy van gesinne weet wat behoeftig is en sy het nie genoeg kos om aan hulle daaglikse behoeftes te voorsien nie.
“Tans is daar 59 gesinne wat maandeliks kruideniersware van ons voedingskema ontvang en ons donateurs gee net soveel, dus is daar nie altyd ekstra nie. Dit breek ‘n mens se hart om vir iemand wat behoeftig is nee te sê,” sê sy.
Haar droom is om die oop gedeelte oorkant Springsgate winkelkompleks om te skep in ‘n woonkompleks vir hawelose mense.
“Daar moet werkskepping plaasvind sodat die mense hul menswaardigheid kan terugkry en sodoende voel hulle beteken weer iets vir die samelewing,” sê San.
Die grootste beloning vir hierdie vrou is wanneer sy die woord ‘dankie’ hoor.
Daarom wil sy graag dankie sê aan past Frik en sy vrou Amela, Ben en Francis, asook haar helpers, Lenie Sneyders, Rudi Potgieter, Anna Groenewald, Annetjie Derksen en Marie Terblanche vir hul ondersteuning en liefde.
“Hulle help my om my roeping uit te leef,” sê San.
Sy voel baie sterk dat as elke kerk uitreik na hul direkte omgewing soos die skole, ouetehuise en dalk ‘n informele nedersetting, sal soveel vermag kan word.
“Mense sê maklik hulle het nie om te gee nie, maar Jesus het nie gevra hoeveel het julle nie, maar wát het julle,” sê sy.
Sy sluit die onderhoud af deur te bid dat die Here haar nog lank sal spaar sodat sy ‘n seën vir ander kan wees en haar naaste kan dien.



