Springs Jukskeiklub het lede van alle ouderdomme wat hierdie unieke sport laat voortleef.
Alhoewel die 18-man-sterk klub deur inbrake in hul klubhuis geteister word, kom hulle steeds elke Dinsdag en Donderdag om 4nm by die klub agter Pam Brink Stadion bymekaar. Hier speel hulle totdat die donker hulle vang.
Rassie Ras, voorsitter van die klub, sĂȘ alhoewel deelnemers in jukskei die afgelope 10 jaar minder geword het, is daar is nog ses ander klubs met ‘n gemiddeld van 15 tot 20 lede in die stede rondom Springs wat in die Oos-Gauteng liga speel.
Hy voel jukskei het beslis ‘n toekoms as sportsoort.
Behalwe vir klub- en streekbyeenkomste is daar SAs en meesters kampioenskappe, asook ‘n B en C spanne kampioenskappe en ‘n skoleliga wat elke jaar in afsondelike SA kampioenskappe by die bane in Kroonstad gespeel word.
Die Springs klub het drie lede wat al Oos-Gauteng by verskeie SA kampioenskappe verteenwoordig het.
Ras vertel jukskei kom oorspronklik vanaf die Voortrekkers wat die houtskeie van die jukke gebruik het. Jukke is die “houtbalke” wat die Voortrekkers gebruik het om die trekosse voor hul waens in te span. Die waens was destyds se manier van vervoer.
Die skeie wat deelnemers vandag gebruik is nie meer net van hout nie, maar ook van rubber en plastiek.
Ras vertel die sport het twee spanne, opgemaak van vier lede elk, wat elkeen twee skeie so na as moontlik na ‘n pen moet gooi.
Die span wat eerste 23 punte kry, wen.
Baie keer moet die skeidsregter ‘n passer gebruik om die millimeters verskil tussen die skeie naaste aan die pen te bepaal.
Ras vergelyk jukskei met skaak, want elke keer as iemand ‘n pen gooi, verander die spel. Spelers moet kan strategies en pro-aktief dink om die span se 23 punte te kry.
Hy nooi alle gesinne uit om aan jukskei deel te neem. Skakel Ras by 082 597 2331 vir nadere besonderhede.



