Al wat Daniel Ourique (12) wil doen is om te dans.
En dit is wat hy in Julie in Los Angeles gaan doen.
Hy is gekies om Suid-Afrika by die Wêreld Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste van 7 tot 23 Julie te verteenwoordig.
Hy gaan hier in ses dansafdelings, die cha-cha, “energy”, jazz, Spaanse dans, kontemporêr en hip-hop deelneem.
Om hiervoor te kwalifiseer het hy by by die SA Kampioenskappe vir die Uitvoerende Kunste presteer.
Benewens die toekenning as die beste mansdanser, het Daniel goue medaljes gekry in die cha-cha, “energy”, jazz, Spaanse dans en kontemporêre afdelings.
Vir hip-hop, sowel as jive en samba, het hy silwer medaljes verower.
Sy gunsteling dans is die cha-cha.
Hy het dit in die SA Kampioenskappe se finale konsert gedoen en gee nie om om dit vir soveel moontlik mense te dans nie.
Daniel is baie opgewonde om in Amerika te gaan dans.
Sy oom, Mossie Ourique, gaan hom vergesel waar hulle in “downtown” LA gaan tuisgaan om die stad te leer ken.
Hy dans al vir ses jaar by Nicole Smith en sal dit nog vir baie jare wil doen.
Hy doen drama by die skool, maar verkies dans, want dan hoef hy nie die “woorde” te leer nie.
Verder geniet hy dit om krieket te speel en beplan om volgende jaar op hoërskool te begin hokkie speel.



