Megan Wilke vaar goed
Megan is beslis 'n atleet om dop te hou
Megan Wilke is tans agtste op die top 10 lys vir junior spiesgooi vroue in die wêreld.
Sy studeer tans by die Universiteit van Potchefstroom in die onderwysrigting B.Ed intermediêr en senior fase, maar ruim genoeg tyd in om haar spiesgooi-loopbaan te bevorder.
Hierdie oud Hoërskool Dr Johan Jurgens leerling het hierdie jaar in verskeie atletiek-kampioenskappe in spiesgooi presteer.
Tydens die Pukke Permit byeenkoms in Sasolburg het sy met ‘n afstand van 54,69m ‘n persoonlike beste behaal en ‘n silwer medalje ontvang.
Met die SA Junior Kampioenskappe in Stellenbosch het sy met ‘n afstand van 52,12m gewen en ‘n goue medalje verower.
By die onlangse SA Varsity (Ussa) Kampioenskappe het sy weer ‘n goue medalje gewen met ‘n afstand van 54,65m.
Sy het ook ‘n nuwe rekord van 52.03m tydens die Varsity Atletiek byeenkoms by die Universiteit van Johannesburg verseker en het weer goud gewen.
Met nog ‘n goue medalje vir haar versameling met ‘n afstand van 49.98m by die Varsity Atletiek-byeenkoms in Pretoria het Megan in Mei saam met die Suid-Afrikaanse junior atletiekspan aan die Southern Region byeenkoms in Potchefstroom deelgeneem, waar verskeie atlete van ander lande deelgeneem het.
By hierdie byeenkoms het sy ‘n goue medalje vir haar land ontvang.
Dit is haar derde agtereenvolgende jaar wat sy vir die Suid-Afrikaanse Atletiekspan gekies is.
Megan is ook gekies vir die Junior Atletiekspan wat vanaf 22 tot 27 Julie aan die Junior Wêreld Atletiek-kampioenskappe, in Eugene, Amerika, gaan deelneem.
Brenda Wilke, Megan se ma, sê hulle weet sy sal goed doen by die wêreld-kampioenskappe.



