Omtrent 185 toneelgroepe van regoor Suid-Afrika en Namibië neem deel aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier.
Die ATKV se droom vir dié kompetisie is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hul kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.
Twintig toneelstukke sal kompeteer en die beste vier stukke sal weer Vrydagaand, 22 Augustus tydens die streeksfeesfinaal optree.
Hoërskool Hugenote, Hoërskool Die Anker, Hoërskool Witteberg, Afrikaanse Hoërskool Sasolburg, Hoërskool Wilgerivier Frankfort, Vereeniging Gimnasium, Hoërskool Transvalia, Bethlehem Voortrekker Hoërskool, Hoërskool Sasolburg, Hoërskool Louis Trichardt, Hoërskool Grenswag en Hoërskool Carletonville gaan gehore vermaak, bekoor en ontroer. Toegang is gratis en elke aand begin om 4nm.
Ira Blanckenberg van 7de Laan faam, Ilse Oppelt (Fishy Fêshuns), Gerrit Schoonhoven (Meeulanders en Soutmansland) en Wilhelm van der Walt (7de Laan) sal as beoordelaars optree.
Die beoordelaars is baie opgewonde oor die nuwe generasie akteurs wat hulle op die verhoog sien.
Omtrent 50 jaar gelede is die saadjie geplant van dié projek wat nou skoolproduksies op die verhoog sien skouer skuur met professionele vertonings.
In 1964 word die besluit geneem om ’n toneelkompetisie vir skole in te stel en in 1965 het die kompetisie amptelik begin met 22 toneelgroepe wat meeding in die ou Transvaal.
Mercia Eksteen, kommunikasiebstuurder sê 50 jaar later is deelname landswyd en die kompetisie strawwer as ooit van te vore.
Tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie leer ’n akteur die dissipline van groepwerk wat later belangrik is vir ’n loopbaan.
Die lys van gróót name wat hulle talente geslyp het op die ATKV-Tienertoneelverhoog, is baie lank.
Hier is maar ’n paar bekende name: André van der Merwe, Anel Alexander, Anneke Weideman, Anton Treurnich, Burgerd Botha, Carina Nel, Cintaine Schutte, Christo Davids, De Klerk Oelofse, Francois Toerien, Herman Lensing, Jak de Priester, John-Henry Opperman, Lindie van Eeden, Ludwig Binge, Melinda Bam, Neels Clasen en Neels van Jaarsveld.
Die Tienertoneel finaal vind plaas tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 7 tot 11 Oktober.
Die 10 finaliste sal gedurende die eerste week van September na afloop van die streeksfeeste aangekondig word.
Vir meer inligting, kontak Lizané Basson by 011 919 9078 of epos lizaneb@atkv.org.za



