Sy was vir 33 jaar die skool se tikster en administratiewe beampte.
Sy sê sy en haar man, Jan Brand gaan vroeg volgende jaar vir ‘n lang vakansie see toe.
Hulle gaan ook nou baie meer tyd hê om by hulle dogters en kleinkinders in Springs, Upington, Hertzogville en Perth, Australia te kuier.
Volgens haar sal sy die gemaklike samesyn tussen die personeel en die ondersteuning en omgee vir mekaar altyd onthou.
Sy sal ook die vriendelike geselsies en drukkies van die kinders mis.
Tydens haar tyd by dié skool het sy nie net gesorg dat alles seepglad en korrek in die kantoor verloop nie, maar die opknapping en algemene netheid van die stoorkamers, kleedkamers en klaskamers was ook vir haar belangrik.
Sy het ook haar deel bygedra as Voortrekkeroffisier, mini-hokkie afrigter en die aanvankllike organisering van die skaakklub.
George Hattingh, vorige hoof van die skool, het verskeie herinneringe van haar tyd by die skool opgeroep.
Sy was die tannie in die kantoor wat elke kind geken het.
Denise het altyd vir elkeen ‘n goeie woordjie gehad het en seerplekke versorg.
Vir die personeel was sy ‘n vertroueling, raadgewer, vertrooster en vriendin.
Anton Jansen van Rensburg, hoof van die skool, het gesê sy verteenwoordig die beeld van die skool, wat alle ouers en kinders met deernis en empatie behandel het.
Haar energie en werklus was vir almal ‘n voorbeeld.
“Sy tree nie af nie, net uit en ons wens vir haar is ‘n gelukkige hart en oë wat altyd sal lag, want jy verdien dit.”



