Leer Springs se mense ken
My pligte is om hand aan hand met al die ander lede en vrywilligers te werk om volhoubare projekte in plek te stel.
Paul Janse van Vuuren (48) is die ondervoorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Springs-tak. Die vrou met wie hy sy lewenspad stap, is Christa Frazer en hulle woon in Petersfield, Springs.
Hoe lank is jy al betrokke by die organisasie en waarom het jy besluit om daarby aan te sluit?
Ek het eers in 2021 betrokke geraak alhoewel ons al ’n geruime tyd weet van hulle bestaan. Ek hou daarvan om betrokke te wees en ander mense te help waar ek kan.
Wat behels jou pligte as ondervoorsitter?
My pligte is om hand aan hand met al die ander lede en vrywilligers te werk om volhoubare projekte in plek te stel en sodoende in die gemeenskap se behoeftes voorsien.
Watter projek staan vir jou tot dusver uit?
Beslis die skooltassieprojek. Skole identifiseer behoeftige leerders en dan ontvang elkeen ’n skooltas met die nodige skryfbehoeftes daarin.
Also read: Leer ons mense ken
Dink jy daar word genoeg gedoen om behoeftiges in die land by te staan?
Daar kan ongelukkig nie aan alle behoeftiges deur die staat omgesien word nie. Dit is waar Solidariteit Helpende Hand ’n verskil probeer maak deur skenkings en donasies bymekaar te maak en dan toe te voeg tot ons onderskeie projekte.
Neem jou betrokkenheid by Helpende Hand baie van jou tyd in beslag en sal jy mense aanraai om daarby aan te sluit?
Ons moedig soveel moontlik mense aan om by Helpende Hand aan te sluit. Soos die ou gesegde sê: ‘Vele hande, ligter werk’. Ons is ’n klein groep wat hard saamwerk en soms heeldag besig is, maar op die einde van die dag maak ons ’n verskil.
Wat is jou beroep?
Ons is betrokke by ons eie kleuterskool. Ons bied veilige vesting en opvoeding aan babas tot en met voorskool en dan ook ons naskool leerders in die middag.
Also read: In die kollig
Wat doen jy graag in jou vrye tyd?
My vrye tyd is gesinstyd. Ons is lief vir die buitelewe en hengel graag.
Indien jy vir een dag die president kon wees, wat sou jy doen?
Ek sal graag die toestand van ons paaie verbeter en sorg vir ’n beter en skoner Suid-Afrika. Ons wil mos trots wees op ons land. Kyk waar huidige stelsels meer effektief kan wees.
Kan jy sonder jou selfoon klaarkom?
My selfoon is ’n middel van kommunikasie, en sonder kommunikasie sal dit moeilik wees om ons werk te verrig.
Indien jy enige vyf mense kan nooi vir ’n ete, wie sal dit wees en waarom juis hulle?
Dit sal my gesinslede wees. Welsyn begin immers by die huis. As ons ’n goeie band en liefde vir mekaar het sal dit maklik oorgedra word aan ons medemens.
Hoe lyk jou ideale vakansie?
My ideale vakansie is om langs die kus te wees. Ons hou daarvan om te toer, en wat is lekkerder as ’n wegbreek langs die kus?
Follow us on our social media platforms:





