Jong danseres dans die verhoog aan die brand
Yana dans al vandat sy 'n kleuter is en hoop om nog groot sukses te behaal.
‘n 14-Jarige danseres van Hoërskool Hugenote het onlangs naam gemaak by die jaarlikse SDS Interprovinsiale Toernooi.
Yana Snyman het as eenjarige reeds voor die televisie op die maat van die musiek begin dans.
Haar eintlike liefde vir dans het egter in die kleuterskool begin toe sy net vier jaar oud was.
“Op die maat van elke liedjie waarop ek dans kan ek myself in die oomblik inleef,” het Yana aan die Advertiser vertel.
Sy vertel ook dat sy elke dans vir haar pa, wat in 2012 oorlede is, doen.
Yana woon saam met haar ma, Yvette in Pietersfield en verduidelik dat sy tans vyf keer per week aan haar dans roetines oefen.
Sy is ook al vir 10 jaar deel van Nicole’s World of Dance.
Die Skoolsport Provinsiale Dans Toernooi het op 20 Mei plaasgevind waar verskeie laer- en hoërskole deelgeneem het en dit is hier waar sy vir die Gauteng-span gekwalifiseer het deur silwer en goue medaljes in haar sak te steek.
“Yana het werklik ‘n absolute inspirerende talent in dans,” het Yvette gesê.
Op 28 Mei by het sy die wisseltrofee vir die beste hoërskool danser by die Oos-Rand Kunstefees ontvang.
Also read: Dance for a better you
Op 15 en 16 Julie het sy aan die interprovinsiale toernooi deelgeneem, waar sy drie goue medaljes vir open rhythm and movement, rhythm and movement en street hip-hop verower het.
Op dié dag het sy ook ‘n wisseltrofee ontvang vir die beste danser van die dag.
“Ek het baie gelukkig gevoel om hierdie wisseltrofee te wen want daar was baie goeie dansers en ek het nie gedink ek staan ‘n kans nie,” het Yana vertel.
“Ek is ongelooflik trots op haar, ek wens altyd haar pa kan haar sien dans,” het Yvette gesê.
Sy neem van al van sewe-jarige ouderdom aan dans kompetisies deel.
Vroeër vanjaar, in Maart, het sy aan die Dance World Cup 2022 in Centurion deelgeneem waar sy en haar groep silver ontvang het en gekwalifiseer het om Suid-Afrika in Spanje te verteenwoordig.
“Ek hoop om volgende jaar weer die titel te wen en hopelik dan genoeg geld in te samel vir almal om te gaan.”
Yana gaan die komende naweek aan die Eurodance kompetisie in Alberton deelneem en sal ook 17 September op die Jan se Skuld Fees se dansbaan te siene wees.
“Dans sal altyd deel wees van my lewe en ek glo ek sal nog groot geleenthede losslaan.”
Follow us on our social media platforms:





