Kappietop ongeluk: ‘n Jaar is verby en dit gaan goed met Marnu
Marnu is ‘n vrolike kind wat altyd glimlag.
Vrydag (26 Mei) was dit presies ‘n jaar gelede dat Helga Muller (40) die oproep ontvang het wat elke ma vrees.
Soos sy in haar eie woorde verlede week in ‘n onderhoud met die Advertiser gesê het: “Daardie foonoproep sal ek nooit vergeet nie en dit het my lewe in ‘n oogwenk verander.”
Die voorval waar Marno Muller (toe vyf jaar oud) vir dae om sy lewe moes veg nadat die toutjie van sy kappietop aan ‘n glyplank by sy kleuterskool in Brakpan verstrengel geraak het, het massiewe reaksie van oral uitgelok. (Kleuter kritiek in hospitaal na voorval by kleuterskool).
Mense het gebid, fondsinsamelings is gehou, mense het uitgereik na Helga en asem is opgehou dat Marnu, wat aan lewensondersteuning-masjiene gekoppel was, sou lewe.

‘n Paar wipplank en angsvolle dae het gevolg waar daar vir die klein vegter se lewe gevrees is maar op 12 Junie was daar ‘n wonderwerk en het Marnu uit sy verdowing ontwaak. (Marno Muller is wakker!)
Vandaar was die pad na sy herstel meer positief en is hy op 22 Junie uit die Netcare Garden City Hospitaal, waar hy behandel is ontslaan. (Marno is by die huis!)
Helga het vandeesweek aan die Herald gesê dat dit goed gaan met Marnu, maar dat die ongeluk altyd ‘n deel van hul lewe sal wees. Die gesin het voorheen in Springs gewoon maar woon nou in Brakpan.
Oor die onaangenaamhede oor beweerde verkwisting van geld en die wrywing tussen Helga en ‘n familielid het Helga gesê dat sy nie kommentaar gaan lewer nie.

“Ek fokus nou op Marnu en sy boetie Zayden (8) se welstand. Dit is al wat vir my saak maak,’ het Helga gesê.
Volgens haar pas Marnu baie goed aan in die skool, waar hy vanjaar in Februarie begin skool gaan het.
“Hy geniet dit regtig baie.”
Marno ondergaan sedert die ongeluk steeds arbeids- fisio, speel- en spraakterapie en hy sien hy ook ‘n sielkundige.
“Dit is alles deel van die proses om hom te help.”
Helga glo nie haar kind onthou veel van die eintlike voorval nie maar die letsels wat dit gelaat het is volgens haar beslis daar.
ALSO CHECK: Kleuter kritiek in hospitaal na voorval by kleuterskool
“Hy praat nie daarvan nie maar ek kan dit in sy gedrag agterkom dat dit hom tog pla. Hy is vreeslik bang vir dokters en verpleegsters en hou ook nie van medisyne nie. Wanneer ons verby ‘n hospitaal ry, raak hy ook paniekerig en sê vir my dat hy nie hospitaal toe wil gaan nie.
“Hy is ook skrikkerig vir speeltoerusting wat uit staal gemaak is en verkies dit om op speelrame en glyplanke te speel wat uit plastiek vervaardig is.”
Helga vertel dat die ondervinding vir haar geleer het om baie meer waaksaam en beskermend te wees.
“Elke ouer, onderwyser, helper moet nooit vir te lank weg kyk of te besig wees op ‘n foon nie. ‘n Ongeluk gebeur baie vinnig.

“Wanneer ek vir my kinders klere koop maak ek seker dat daar nie ‘n toutjie is nie. As daar een is sny ek dit af. Selfs van my eie klere.
“Wie sou ooit kon dink dat die plastiek balletjie aan ‘n toutjie op ‘n baadjie vir soveel skade kon sorg?”
Volgens Helga is Marnu ‘n buite-kind. Wanneer hy buite kan speel is hy op sy gelukkigste.
“Hy is dol oor balspeel en skop ‘n bal soos ‘n tipiese rugbyspeler dit op Loftus sal doen. Ek het geen idee waar hy daaraan kom nie maar hy is baie goed daarmee.”
“My lewe het op 26 Mei 2022 vir altyd verander. Die angs oomblikke in die hospitaal toe ek onbeheerbaar op my knieë neergesak het sal my vir altyd bybly.
“Maar dit het my ook sterker gemaak. My geloof is sterker en my verhouding met die Here is sterker en ek is baie meer beskermd oor my kinders.
“Marno is ‘n lieflike kind wat altyd in ‘n goeie bui is en glimlag.”



