Laerskool PAM Brink otvang R10 000
Die skool is trots op hul leerders vir die harde werk om die prys te wen.
Laerskool PAM Brink het Vrydag ‘n kontantprys van R10 000 ontvang van Solidariteit Helpende Hand as die skool wat die meeste items ingesamel het vir die Ons Winkel in Springs.
Dié skolekompetisie het plaasgevind regoor die Oos-Randstreek.
Leerders is versoek om tweedehandse klere, meubels en goedere wat nie meer by hul ouerhuise gebruik word nie, na die skool of direk na die Ons Winkel te neem.
Koepons is dan vir die skenkings uitgereik om sodoende te bepaal watter skool die meeste items geskenk het.
Laerskool PAM Brink was bo-aan die lys en het Vrydagoggend die kontantprys, sowel as lekkers vir die leerders ontvang.
Daar was ook ‘n kort optrede deur Solidariteit Helpende Hand se dierekarakters.
“Ons is baie trots op ons leerders en hul samewerking, want sonder hulle en hul ouers sou ons nie die wenners kon gewees het nie,” het Anton Janse van Rensburg, die hoof, gesê.
Helpende Hand Springs-tak voorsitter, Martie de Villiers, en die Springs Ons Winkel eienaar, Johan Fourie, het die kontantprys aan die skool se debiteure klerk, Colleen Pieterse, oorhandig.



