Verslaentheid na jong rugbyspeler op Die Anker se rugbyveld sterf

Die belowende jong rugbyspeler het kort na die wedstryd inmekaar gesak en alle pogings om sy lewe te red was tevergeefs.

‘n Kragmeting Dinsdag op die rugbyveld tussen Hoërskool Die Anker en Jeppe High School for Boys het tragies geëindig toe ’n 16-jarige rugbyspeler van Jeppe op die veld inmekaar gesak het en kort daarna oorlede is.

Ouers, toeskouers, personeel en spelers is geruk deur die voorval wat ten aanskoue van baie mense plaasgevind het.

Alle pogings om die jong speler, Kaiden Bowie se lewe te red was vergeefs.

Hoërskool Die Anker het na die tragiese voorval ’n plasing op die skool se Facebook-blad geplaas waarin die skool sy meegevoel met die familie, vriende en die hele Jeppe gemeenskap uitspreek.

“Weet asseblief dat julle almal in ons gedagtes en gebede is terwyl julle deur hierdie hartverskeurende oomblik gaan.”

Dit lui voorts: “Kaiden sal onthou word vir sy passie vir die spel wat hy lief gehad het en sy gees sal voortleef in die harte van diegene wat hy geken het.”

“Ons stuur sterkte en vertroosting terwyl daar getreur word oor hierdie groot verlies.”

’n Woordvoerder van Hoërskool Die Anker het gesê dat die skool nie kommentaar kan lewer oor die voorval nie en het enige navrae na die Gauteng Departement van Onderwys verwys.

Die Onderwys Departement het Woensdag ’n verklaring uitgereik waarin  die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane ook sy simpatie uitgespreek het oor die dood van Kaiden Bowie.

Volgens die verklaring is die departement se psigo-sosiale ondersteuningseenheid na beide skole gestuur vir nodige traumaberading en ondersteuning.

“Ons is ook dankbaar teenoor die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) wat ook van hul dienste beskikbaar gemaak het vir bykomende ondersteuning by hierdie skole,” het Chiloane gesê.

“Ons is diep geraak oor hierdie tragiese voorval en wil ons opregte meegevoel betuig met die familie van die oorledene, sowel as die gemeenskappe van die onderskeie skole,” het LUR Chiloane gesê.

Exit mobile version