Local newsNews

Onderwysers nou internet-sensasie

Daar word weekliks 'n nuwe video op die Flippie en Glippie kanaal gelaai.

Vandag se kinders speel nie meer buite nie maar word eerder met ‘n selfoon in die hand gesien, besig om video’s te kyk of selfs speletjies te speel.

Onderwyers, Francois Boonzaaier (37) en Gerhard Thysse (30) het egter koppe bymekaar gesit om kinders se skermtyd meer opvoedkundig te benader.

Die nuwe YouTube-kanaal, Flippie en Glippie is gebore nadat Gerhard se twee-jarige seun vir ure aaneen kindervideo’s geyk het, maar dat dit volgens hom sinnelose video’s was en boonop in Engels ook.

Volgens hulle het die maak van hulle eie video’s vinnig die onderwerp van bespreking geword. Daar was aanvanklik eers grapperige videos tussen die twee heen en weer rond gestuur, maar hulle het gou besef dat hulle die vermoë het om dié taak aan te pak.

“Ons wil graag vir ons kinders video’s wys wat betrekking het tot kind wees en speel, maar terselfdertyd moet hulle ook kennis opbou,” vertel Francois aan die Springs Advertiser.

Die eerste video is in Maart vanjaar op die video platform gelaai. Die kanaal het vinnig gegroei en het in minder as ’n maand en ’n half meer as 700 intekenare bereik.

Hierdie uiters gewilde YouTube-kanaal bestaan uit Afrikaanse opvoedkundige video’s vir klein kinders.

Hier praat Flippie en Glippie oor allerhande interessante onderwerpe vanaf diere, kleure tot selfs plante.

Daar is tans 13 video’s op die kanaal met ‘n 14de een wat glo binnekort opgelaai gaan word.

Volgens Francois en Gerhard kan hulle kykers uitsien na ‘n hele rits opkomende video’s, onder andere ’n brandweer video, ’n vliegtuig toer uitstappie en hoe om ‘n das te knoop.

“Ons hoop om in die Junie skoolvakansie sommer ’n hele paar videos te skiet.”

Beide Francois en Gerhard erken dat die werk agter die skerms baie langer neem as wat hulle aanvanklik gedink het.

“Die maak van ‘n drie-minute video vat ongeveer vier ure om te skiet en ten minste nog vyf tot 10 ure se redigering en wysigings wat aangebring moet word.

“Dan neem die oplaai van die videos op al die platforms amper ‘n verdure uur.”

Agter die skerms is dit dié twee se vrouens, Monique en Jauné wat help met die skiet van die video’s asook die redigering, klank en addisionele kamera werk.

Volgens Francois probeer hulle ten minste weekliks ’n video oplaai maar dat dit soms uitdagend is om die kanaal saam met hulle onderwyspligte te balanseer.


Flippie en Glippie in aksie in een van die opvoedkundige videos.

Wanneer Francois en Gerhard nie Flippie en Glippie se skoene vol staan nie, hou hulle skool by die Hoërskool Hugenote.

Hier bied Gerhard toerisme en Afrikaans, mens- en sosiale wetenskappe aan terwyl Francois robotika en kodering, asook rekenaartoepassingstegnologie aanbied. Hulle hou vol dat daar geen formele skrif vir die skiet van ‘n video is nie, net ‘n paar basiese hoofpunte.

“Ons geniet die samesyn en die lag. Ons het verskriklik baie ‘bloopers’ en moet verskeie kere oor afneem as gevolg van die joligheid en pret agter die skerms,” vertel Francois.

Die hoofdoel van die video’s is om kinders te vermaak maar ook op te voed. Volgens Francois het talle kinders nie die voorreg om te reis of algemene take saam ‘n pa-figuur te verrig nie.

“Met net een klik bring ons ‘n hele nuwe wêreld na die kinders toe.”

Alhoewel hulle nie verwag het dat die kanaal so vinnig sou groei nie, jaag hulle nou 1 500 intekenare na en beoog om ‘n groot sukses hiervan te maak.



LEES OOK: Kerk se jeug help by DBV

LEES OOK: VLU lede geniet ‘n leersame vergadering

Related Articles

 
Back to top button