Oud-hoof van Springs Tegniese Skool oorlede
Jan Struwig was vir byna twee dekades die skoolhoof van Springs Tegniese Hoërskool.
‘n Bekende in die onderwyskringe, Jan Struwig is onlangs oorlede. Die geliefde Jan of beter bekend as meneer Struwig, is in die ouderdom van 93 oorlede.
Jan is aan ‘n beroerte oorlede en sedert sy afsterwe het hulde aan hierdie oud-onderwyser en -skoolhoof op sosiale media ingestroom.
Honderde het staaltjies oor sy onderwysdae gedeel. Hoewel dié oud-skoolhoof vir sy uitstekende leiding bekendgestaan het, word hy deur oud-leerders as ‘n mentor beskryf en iemand na wie daar altyd opgekyk kon word.
Jan is in 1930 gebore en het die grootste deel van sy lewe aan die onderwys gewy. Hy het vroeg in sy loopbaan by die Hoër Hugenote Seunsskool aangesluit waar hy vir ses jaar skoolgehou het.

Daarna was hy vir ‘n verdere vier jaar aan die Amsterdam Hoër Landbouskool in Edenvale verbonde, voordat hy sy stempel by die Springs Tegniese Hoërskool afgedruk het.
Hier was hy eers as visie-hoof aangestel en toe later as skoolhoof. Hy het vir byna twee dekades ‘n blywende stempel op die skool afgedruk en diep spore gelaat.
As Afrikaanse onderwyser het hy ‘n groot liefde vir sy moedertaal gehad en dit was vir hom belangrik dat die leerders dieselfde passie daarvoor deel.
Na sy aftrede in 1991 by Springs Tegniese Hoërskool het hy sak en pak na Nelspruit verhuis waar hy ‘n verdere 33 gesonde jare deurgebring het.
LEES OOK: New chef serves up culinary delights at Carnival City’s pre-birthday celebration
Hier het hy op sy plaas gewoon waar hy volgens sy kinders, nog baie aan die gang was. Sy onafhanklikheid was vir hom baie belangrik en hy het nog op die ouderdom van 88 op die trekker geklim en gras gesny.
Nie net was hy ‘n skoolhoof en ‘n leier in die kerk nie, maar het ook op die politieke gebied leiding verskaf as raadslid.
Hy word as ‘n prominente figuur onthou. Maar vir sy familie was hy baie meer as dit; hy was ook ‘n liefdevolle man, pa en oupa.
Hy laat vyf dogters, 10 kleinkinders, 12 agterkleinkinders asook ‘n broer en ‘n suster agter. Al vyf sy dogters het in sy onderwys voetspore gevolg.
“Hy het altyd ‘n positiewe uitkyk op die lewe gehad en nie geskroom om ‘n oplossing vir ‘n probleem te vind nie,” het een van sy dogters, Annalouise Bekker (55) gesê.
“My pa was ons rots. Hy het ons onvoorwaardelik liefgehad en het alles wat hy gedoen het vir sy familie gedoen. Ek gaan my pa in sy totaliteit mis. Die leemte is groot.”



