Top klas teater by Laerskool Selectionpark se deure open binnekort
Hierdie teater is een van die grootstes in die Oos-Rand.
Die Laerskool Selectionpark is trots en terselfdertyd opgewonde oor die bekendstelling van hul nuwe teater.
Die skoolhoof, André du Plessis se teater-droom is aan die einde van 2021 gebore en hy het nie geskroom om werk daarvan te maak nie.
Konstruksiewerk is sedertdien aan die gang om een van die grootste teaters in die Oos-Rand op dié skool se perseel op te rig.
Du Plessis was van die begin af aktief betrokke by die beplanning en ontwikkeling van hierdie top klas teater.
Hy het sy insette gelewer vanaf die uitleg van die gebou tot die finale dekor op die mure.
“Hierdie projek het groot betekenis en waarde aan my laaste aftree-jaar gegee,” sê hy.
Hy het aanvanklik van ‘n teater begin droom toe hy opmerk dat die skool se leerders nie meer in die skoolsaal pas nie.
“Die hoofdoel is om al die leerders met saalbyeenkomste en prestasie aande te akkommodeer maar dit sal ook aan die gemeenskap beskikbaar gestel word om produksies aan te bied,” sê hy.
Dié teater beskik oor meer as 800 sitplekke en word onder andere met top kwaliteit klank en beligting toegerus.
Die stoele wat in die teater gebruik gaan word, is ondermeer ingevoer van China. Die openingseremonie van hierdie teater sal op 22 November plaasvind.
Die skool beplan ‘n reuse vertoning met Riana Nel en verskeie oud-leerders onder andere die jong pop-ster, Johnny Lochner.

Op hierdie openingsaand sal die naam van die teater ook bekendgestel word.
Slegs drie dae later sal die Laerskool Selectionpark hulle eie revue hier aanbied. Du Plessis erken dat hy opgewonde is om die kinders op die verhoog te sien floreer.
Sy paadjie met die teater gaan nie noodwendig tot ‘n einde kom wanneer hy aan die einde van kwartaal vier aftree nie.
Die skool se beheerliggaam het hom aangestel as die amptelike bestuurder van die teater en hy sal van volgende jaar af in beheer daarvan wees.
LEES OOK: Springs resident wins luxury bed in word search competition
Hy erken dat hy ‘n groot liefde vir musiek het en beoog om een keer per maand ‘n kunstenaar te kry sodat daar konsert gehou kan word.
“Ek is beslis ‘n teater-ou maar ‘n mens kan nie elke keer Pretoria toe ry vir ‘n konsert nie. Hoe lekker gaan dit nie wees om sommer in die gemak van jou eie dorp ‘n teatervertoning by te woon nie?”
“Ons teater is uniek en my droom is dat elkeen wat hierna toe kom, dit net sal geniet en ‘n nuwe waardering vir teater sal kry.”
Hy sluit af met: “Tot hier toe het die Here ons regtig gehelp en aan Sy goedheid is daar geen einde nie.”
LEES OOK: Hidden historical gems amidst coal excavation near Alexander Dam



