Strubenvale uitbreiding inwoners moeg vir metro se gesloer
Inwoners van Strubenvale uitbreiding het self die kragboks met plastiek bedek.
Die inwoners van Strubenvale uitbreiding is keelvol vir die Ekurhuleni metro se gesloer wanneer dit by herstelwerk kom.
‘n Jarelange inwoner van die woonbuurt is bekommerd oor die gevare en nagevolge wat ‘n oop elektriese kragboks vir hulle as inwoners inhou.
Hennie Nel (50) meen dat die munisipale werkers afskeepwerk doen en geen belangstelling toon om die werk te voltooi nie.
Op die hoek van Frans Prins- en Terblanchestrate is ‘n elektriese kragboks wat al vir byna twee jaar lank oop staan sonder ‘n deur om die elektriese bedrading te bedek.
“Vir ons as inwoners is dit ‘n groot veiligheidsrisiko en dit hou ook moontlike brandgevaar in,” het Hennie gesê.
“Wat as een van die kinders met die drade gaan speel en doodskok. Wie gaan dan verantwoordelikheid neem daarvoor?” het hy bygevoeg.
Verskeie inwoners van dié woonbuurt lê al ‘n geruime tyd op die munisipaliteit se nek en plaas druk op hulle om hulle onvoltooide werk klaar te maak maar na bewering word die saak nie ernstig opgeneem nie.
Omdat daar vir maande al geen poging aangewend is om die kragboks te bedek nie, het die inwoners reg in eie hande geneem en self die boks met plastiek bedek met die hoop dat dit verbygangers sal verhoed om daar te peuter.
“Ons almal betaal maandeliks ons tariewe en belasting en al wat ons wil hê is waarde vir ons geld en dat die munisipaliteit hulle werk behoorlik doen,” het Hennie gesê.
‘n Navraag hieroor is aan die Stad van Ekurhuleni gerig. Teen druktyd is nog geen kommentaar ontvang nie.
LEES OOK: Springs Police investigate claims of baby’s burial
LEES OOK: CoE commits to transparency during SIU investigation




