Local newsNews

Bobaas bakster beïndruk met beskuit

Petra Groenewald het onlangs baie goed gevaar in RSG se bakgat-kompetisie vir die land se bobaas-beskuitbakkers.

Die innoverende Petra Groenewald van Strubenvale het onlangs haar liefde vir bak en brou met die res van Suid-Afrika gedeel nadat sy aan RSG Bakgat-beskuitkompetisie vir die land se bobaas beskuitbakkers deelgeneem het.

Wat hierdie 59-jarige bakster se deelname nog meer opwindend maak is dat sy na die eindronde van die kompetisie deurgedring het en met vierde plek weggestap het.

Petra het op die laaste nippertjie haar gewilde kersiebeskuit ingeskryf, nadat iemand haar aangemoedig het om dit te doen.

RSG se beoordelaars het altesaam 1510 baksels beskuit geproe waarvan daar toe ‘n top 72 bekend gemaak is. Die deelnemers se punte was daagliks opdateer soos wat die baksels geproe en beoordeel word. Elke deelnemer kon ook kyk waar hulle op die punteleer lê.

Die beskuit is op verskeie kategorieë beoordeel en elke deelnemer het ‘n punt uit 200 gekry waarvan Petra 174 gekry het. Op 3 November is die top 5 aangekondig waarvan Petra een van die gekose deelnemers was.


Die top vyf finaliste van RSG se Bakgat kompetisie met Petra Groenewald tweede van regs.

“‘n Mens weet nie wat om te verwag nie want hulle kon intussen iemand anders se beskuit bo joune kies maar die oomblik toe hulle my naam op die radio lees het trane van blydskap gestort; ek kon nie eers ‘n woord inkry nie,” vertel Petra trots.

Sy en haar mede vier baksters was op 13 November na Virseker in Midrand genooi waar ‘n nuwe paneel beoordelaars die baksels moes proe en beoordeel.

Terwyl die beoordeling proses aan die gang was, het die RSG omroeper Derrich Gardner regstreeks met elke finalis ‘n onderhoud gevoer. Nes die Springs Advertiser s’n, was een van Derrich se vrae aan Petra, wat haar kersiebeskuit so besonders maak.

Hoewel sy nie haar geheime wil verklap nie, bieg sy dat die kersies besonders is omdat dit van ‘n verskaffer af kom en nie sommer enige kersie is wat by ‘n winkelsentrum gekoop kan word nie. Petra se bekende kersiebeskuit het algeheel vierde plek ingeneem en sy is met R5 000 huis toe.

“Dit was vir my ‘n groot eer en voorreg om selfs net deel van die top 72 te wees, wat nog van die top vyf,” sê Petra en voeg by dat die kompetisie al haar verwagtinge oortref het.


LEES OOK: Lucky winner walks away with R2080 meat hamper


“Ek gee die Here al die eer dat Hy my die geleentheid gegun het om daar te kon wees en die ervaring te beleef; dit was net fantasties.”

Aan Petra se kreatiwiteit is daar geen einde nie. Hierdie kersiebeskuit resep is een van haar eie uitvindings. Sy het verlede jaar met haar beskuit resepte begin eksperimenteer toe sy die blink idee gekry het om kersies te gebruik.

“Ek is ‘n groot kersie liefhebber en het geweet dit is iets wat ek moet probeer; dit het net gewerk,” vertel sy trots.

Petra het vanaf ‘n jong ouderdom saam met haar ma gebak en het sy eers twee jaar gelede besluit om meer ernstig te bak nadat sy op vroeë pensioen gegaan het. Na afloop van die kompetisie het sy reeds verskeie bestellings van reg oor die land gekry van mense wat nuuskierig is om haar beskuit te proe.

“Ek sou hierdie nooit sonder die ondersteuning van my man, kinders en kleinkinders kon doen nie. Hulle het deur die hele proses in my geglo en ek sal hulle ewig dankbaar wees,” het Petra gesê.

Hierdie bobaas bakster se hande staan vir niks verkeerd nie en wanneer sy oor haar gebak praat is dit met passie en ‘n breë glimlag op haar gesig. Sy sluit af met Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”


LEES OOK: Chance Children’s Home and Nurturing Centre reopens after 18 months


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button