Local newsNews

Presidentia bejaardes leef in vrees, vrou (88) in huis oorval

Inwoners van Presidentia Ouetehuis vrees daagliks vir hul lewens.

Die bejaarde inwoners van Presidentia Ouetehuis leef voortdurend in vrees sedert inbrake die norm geword het.

Dit volg nadat nog twee inwoners van dié tehuis verlede week ‘n nare ondervinding gehad met inbrekers wat hulle eenhede in die vroeë oggend ure binnegedring het.

Volgens die 64-jarige Bart van Niekerk is dit ‘n bedekte seën dat hy sukkel om te hoor en van gehoorapparate afhanklik is.

Saans haal hy sy gehoorapparate uit voordat hy gaan slaap, wat daartoe gelei het dat hy nie eers bewus was van die twee indringers in sy eenheid nie.

Hoewel Bart saans sy deure sluit, het die booswigte steeds daarin geslaag om beide die deure oop te kry.

“Nadat ek die oggend wakker geword het, wou ek my televisie aansit en toe ek op by bank kom sit, sien ek my televisie is weg.”

Nadat Bart ondersoek ingestel het, het hy agtergekom sy kierie, selfoon en beursie langs sy bed was ook weg. Sy kiere is later deur die polisie in ‘n verlate veld opgespoor.

Minder as twee maande gelede was Bart se selfoon uit die einste eenheid gesteel en skaars weke nadat hy dit vervang het, is die nuwe selfoon ook gevat.

“Ek is net dankbaar dat ek bly slaap het. As ek wakker geword het, sou hulle my dalk baie seer kon maak,” vertel Bart.

Hoewel hy geskrik het erken hy dat hy nie bang is om saans daar te slaap nie omdat die Here hom sal beskerm.

Nadat die twee verdagtes Bart se eenheid leeggedra het, was Marie du Plessis se woonplek volgende op hulle lys.


Bart van Niekerk se kiere is later deur die polisie in ‘n verlate veld opgespoor.

Volgens dié 88-jarige inwoner het sy om 2:30 die oggend wakker geword nadat sy ‘n geluid buite gehoor het.

Na bewering word die inwoners se motors en motorbande gereeld gesteel en daarom wou sy by die venster uitloer om te kyk of iemand aan haar motor peuter.

“Toe ek die verby die gordyn loer het ek die twee mans buite my venster gesien en dadelik om hulp geroep. Soos blits was hulle binne my woonstel en een van hulle het my vasgedruk,” het Marie vertel.

Die een man het haar woonstel deursoek en die ander een het haar teen die muur vasgedruk met sy een hand om haar keel en die ander een bo-oor haar mond.

Nadat een van die mans met haar selfoon en televisie by die venster uit is, het die ander een vir Marie laat gaan en homself ook uit die voete gemaak.


Marie du Plessis (88) by die venster waardeur die mans toegang tot haar eenheid gekry het.

“Ek het regtig nie gedink ek gaan lewendig daar uitkom nie; ek was seker hy gaan my keel afsny.”

Sy voeg by dat sy heeltyd met God gepraat het en vir beskerming gevra het. Na dié traumatise voorval is Marie bang om in haar eie woonstel te slaap en meen dat sy eers veiliger sal voel wanneer haar vensters oor diefwering beskik en die hekke van die tehuis weer werk.

Hoewel die Advertiser in 2021 ook hieroor berig het, is hierdie tehuis se hekke steeds buite werking. Na bewering staan die hekke bedags oop en word saans met ‘n slot gesluit.

Die palisades wat veronderstel is om die inwoners te beveilig is ook geroes en reeds op plekke oopgebuig en afgebreek waar indringers maklik toegang tot die terrein bekom.

Die Advertiser het die Stad van Ekurhuleni rakende hierdie kwessie gekontak. Teen druktyd was nog geen terugvoering ontvang nie.



ALSO READ: Gingers celebrate top players at Pollak Park Golf Club

ALSO READ: Laerskool Selectionpark wys nuwe hoofleiers aan

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button