KYK: Inwoners gryp in waar stad sloer
Hierdie twee mans sny in hulle vrye tyd Presidentia se gras.
Twee goedhartige mans het reg in eie hande geneem en is versbeslote om Presidentia se lang gras te stuit.
Na bewering het die Stad van Ekurhuleni nie die nodige befondsing om Presidentia se gras te sny nie en hulle is van mening dat dit elke bejaarde se eie verantwoordelikheid is om hul gras kort te hou.
Die 57-jarige Fanie Scholtz stem egter nie saam nie en het die verantwoordelikheid op homself geneem om die gras in stand te hou.
Hierdie barmhartige man, wat oorkant die tehuis woon, hou al vir 14 jaar lank Presidentia se gras kort nadat hy jare lank in die seeroog moes vaskyk.
“Ek het destyds besluit om die gras veral aan die buitekant te sny omdat dit so lank was dat ‘n mens nie sou kon sien of iemand daar vir jou lê en wag nie,” vertel Fanie.
Dit is nou jare later en hy sny steeds onverpoosd Presidentia se gras in sy vrye tyd.
Vir die eerste ruk het hy van sy elektriese grassnyer gebruik gemaak maar volgens hom het die kabel wat oor die pad moes loop, later ‘n probleem geraak.
Dit het hom ook ongeveer twee ure geneem om net die buitekant te sny en dan nog twee ure om binne ook te sny.
‘n Paar jaar gelede het Fanie vir homself ‘n ry-op-grassnyer aangeskaf waarop hy gemaklik kan sit. Nou neem dit hom ongeveer twee ure om die gras binne en buite te sny.
Tussendeur sy besige skedule en voltydse werk, sny Fanie steeds na al die jare twee keer per maand Presidentia se gras.
Aan Fanie se goedhartigheid is daar geen einde nie en wanneer hy kans kry, braai hy sommer vir die inwoners van Presidentia ‘n worsie en bederf almal met worsrolle.
Hy het ‘n sagte plek in sy hart vir die tehuis se bejaardes en sny hulle grasperke uit die goedheid van sy hart.
@springsadvertiser Fanie Scholtz in aksie met sy grassnyer.#Springs #Residents #ekurhuleni #viral_video #fyp
Hoewel Fanie se goeie daad hierdie bejaarde inwoners baie tyd en geld spaar, kan hy egter nie die hele tehuis aan die binnekant sny nie omdat die stuk grond net te groot is.
Die laaste paar maande het hy egter hulp van een van die inwoners van Presidentia ontvang.
Die 64-jarige Johan Gross woon die afgelope twee jaar hier en is ongelukkig oor die toestand van die tehuis.
“As ons nie self die gras sny en die plek probeer in stand hou nie, lyk dit soos ‘n oerwoud hier by ons,” sê ‘n onstelde Johan.
Hy sny die laaste twee maande byna elke dag rondom die wooneenhede en vra sy mede-inwoners vir ‘n klein bydrae tot die toerusting se petrolgeld.




