News

Springs Rugbyklub skop die seisoen af

Die Springs Rugbyklub se seisoen het Saterdag met 'n vriendskaplike wedstryd afgeskop.

Die Springs Rugbyklub se seisoen het Saterdag amptelik afgeskop met ‘n vriendskaplike wedstryd op die Olimpia Park gronde teen Sibanye Stilwater.

Vir die eerste wedstryde van die jaar het die manne nie sleg gevaar nie.

Springs se eerste span het naelskraaps met 20-17 verloor.

Die tweede span het ’n goeie dag op die veld beleef en ‘n weghol oorwinning van 38-12 behaal.

Die o21-span het hulle wedstryd ook met 20-17 verloor.

Die klub is van vroeg Januarie af reeds goed aan die gang en oefen weer volstoom twee keer per week.

Hoewel die klub einde Januarie amptelik proewe gehad het, was Saterdag se vriendskaplike wedstryde as verdere proewe beskou om te kyk watter spelers hul kant bring.

“Ons het paar nuwe manne gekry en ons is nuuskierig en opgewonde om te sien wat hulle na die klub toe gaan bring,” het die hoofafrigter Johan Zondagh gesê.

Zondagh hoop nie net dat die klub vanjaar goeie rugby sal oplewer nie maar ook dat die gemeenskap meer betrokke by die klub sal raak.

‘n Opwindende jaar wag op Springs Rugbyklub en die eerste amptelike groot wedstryd sal eerskomende Saterdag plaasvind wanneer die nuwe Castle Lager Superliga, waarvan die Springs Rugbyklub nou deel is, afskop.

Nadat die Castle Lager Superliga afgehandel is, speel Springs in die Valke se President Uitklopliga waarin al die Valke klubs deelneem en daarna volg die Peregrine Liga.

Zondagh en sy mede-afrigters sien uit na die besige jaar wat voorlê en beoog om goeie rugby op te lewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button