Local newsNews

Buurvroue koester jare lange vriendskap

Bettie en Olga het al in drie verskillende huise elke keer langs mekaar gebly.

Om lastige of raserige mense te hê wat langsaan jou bly, kan soms jou lewe in ‘n nagmerrie laat ontaard, maar twee buurvroue van Petersfield meen hulle het egter die boerpot geslaan.

Bettie Bezuidenhout (73) en Olga Mulder (79) is nie net al vir meer as 50 jaar lank bure nie, maar ook beste vriendinne.
Hierdie vriendskap het in die laat 70’s gevorm toe die Bezuidenhout en Mulder gesinne langs mekaar in Presidents Dam gewoon het.

Hier het hulle byna 13 gelukkige jare gehad voordat die Mulder gesin wou trek en voorgestel het dat Bettie en haar seuns saam moet trek.

“Omdat my man toe al oorlede was, het hulle voorgestel dat ek saam moet trek en nie alleen agter bly nie, ek het nie eers twee keer daaroor gedink nie en dadelik ja gesê,” vertel Bettie.

‘n Klompeks in Petersfield Uitbreiding was toe vir vier jaar huis vir beide gesinne. Bettie en Olga het mekaar toe lank reeds nie meer as buurvroue beskou nie, maar eerder beste vriendinne.

“Die huisie het later vir my en die twee seuns te klein geraak. Ek het Olga eendag gebel en gesê dat dit weer tyd is om te trek en toe ek weer sien was dié twee huise sommer langs mekaar beskikbaar,” sê Bettie.

Dié twee gesinne het sommer een vragmotor gekry om beide se besittings te trek. Die vragmotor het glo in die middel van die twee eiendomme gestop en hulle het net aangedui watter meubels na watter huis toe moet gaan.

“Wat is die kans dat ons twee huise spoedig verkoop het en hierdie twee huise nog ook langs mekaar gelyktydig beskikbaar was. Dit kan mos nie toeval wees nie,” sê Olga.

Hulle woon nou al vir 33 gelukkige jare in Petersfield en beskou mekaar nie meer as net buurvroue of vriendinne, maar eerder as familie.

Dié twee vroue het vroeg in hulle vriendskap al agter gekom dat hulle ook ‘n verjaarsdag op 25 Augustus deel. Hulle het glo dieselfde smaak, sin vir humor en is beide baie geesdriftig.

Vir jare lank kuier hulle al heen en weer en het selfs sleutels vir mekaar se huise.

“Ons hoef partykeer net vir mekaar te kyk, dan dink ons al dieselfde ding,” voeg Bettie by.


Olga en Bettie in 2015 by die Chamonix-Mont-Blanc in Frankryk vir hulle verjaarsdae.

Hulle meen na vyf dekades se vriendskap raak hulle steeds nie uitgepraat nie en staan soms na afloop van hulle kuiertjies nog buite op die sypaadjie en gesels verder.

Hulle het baie staaltjies uit die verlede om te deel en saam het hulle nie net al Suid-Afrika plat gereis nie maar ook al verskeie kere oorsee gereis na ondermeer Spanje, Egipte, Italië, Kroasië en Frankryk.

Nadat hulle vir meer as 50 jaar buurvroue was, gaan dit egter eersdaags tot ‘n einde kom omdat Olga en haar man na Rus ‘n Bietjie tehuis moet verhuis.

“Mens moet ongelukkig die nare werklikheid in die gesig staar. Ons word ouer en die gesondheid is nie meer wat dit was nie,” sê Olga.

Bettie voel egter sy is nog nie gereed om haar huis en vryheid vir ‘n ouetehuis te verruil nie en sê dat sy dit gaan mis om net om te loop vir ‘n vinnige koffie saam met haar vriendin.

“Dit is gelukkig net twee kilometer weg, ons het klaar gemeet,” sê Olga laggend en voeg by dat hulle steeds elke dag saam gaan kuier en tyd maak vir mekaar.

Deur die jare het hulle byna elke Kersfees saam spandeer en uit die aard van die saak hulle verjaarsdae ook saam gevier.

Hulle is soos vinkel en koljander en het glo nog nooit ‘n rusie gehad of stry gekry nie. Hulle vriendskap is besonders en dit is hulle sin vir humor wat hulle nog so jonk van gees hou.



LEES OOK: Padtekens in Springs word al hoe meer verontagsaam

LEES OOK: Laerskool Selectionpark verwelkom nuwe personeel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button