Local newsNews

Springs rugbykaptein is gereed om blywende impak te maak

Die Springs Rugbyklub het onlangs 'n nuwe kaptein vir die eerste span aangewys.

Om as kaptein vir ‘n rugbyspan op te tree is ‘n groot verantwoordelikheid wat op ‘n speler se skouers rus, maar C-Jay Strauss is gereed om ‘n positiewe bydrae te lewer.

Hierdie 26-jarige rugbyspeler is al vir vyf jaar deel van Springs Rugbyklub se eerste span. Hy floreer tans as flank maar is ook gemaklik om sy span as agtsteman en slot te verteenwoordig. Sy liefde vir die spel het in sy Valkie rugby dae reeds op laerskool begin.

“Ek onthou daardie dae soos gister. My ouers was altyd langs die veld en my pa het gesê hy sal my R100 gee vir elke drie wat ek druk,” vertel hy laggend.

Dié rugbyster het in Brakpan Sentraal grootgeword en sy hoërskool loopbaan by Hoërskool Die Anker voltooi.

Hoewel C-Jay jare lank al rugby speel, was hy nie noodwendig altyd vir die A-span gekies nie, maar volgens hom was sy liefde vir die spel net te groot om op te gee.

Hy het nie vanjaar die kapteinskap verwag nie maar is dankbaar vir die vertroue wat die afrigters in hom het.


C-Jay Strauss het al talle punte vir Springs se eerste span aangeteken.

“Ek wil die span lei deur ‘n voorbeeld te wees en ek gaan beslis by ander raad vra en raad volg. Respek, gesindheid en ingesteldheid is drie dinge wat ek graag na die span wil bring.

“Ek wil hê my mede-spelers moet weet dit maak nie saak hoe moeilik dinge in ‘n wedstryd kan raak nie, die son sal weer môre skyn. Ek sal ook nooit iets van my spanmaats verwag wat ek nie self sal doen nie,” sê hy.

Volgens C-Jay, ‘n groot Blou Bul ondersteuner, is dit die klub se kultuur en die feit dat elkeen as familie beskou word, wat hom jaar na jaar by die klub hou.

Hoewel dit vir hom moeilik was om sy gunsteling deel van die sport uit te sonder, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat sy rugby fondasie op geloof gebou is en dat die broederskap wat tussen die spelers vorm, baie spesiaal is.

C-Jay meen Springs Rugbyklub afrigters het iets in hom raakgesien wat geen ander afrigter al ooit het nie.

Sy positiewe gesindheid en uitkyk op die lewe gaan ongetwyfeld ‘n blywende inpak op sy span maak en hy sluit af met: “Watch the space want Springs Rugbyklub is hier om klubrugby se naam hoog te hou.”



LEES OOK: Young scout earns prestigious Leaping Wolf Award

LEES OOK: UPDATE: City warns against inciting panic following accident involving learners

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button